Jaco Coetzee, losvoorspeler van die Westelike Provinsie en Stormers, het die belangstelling van minstens twee Europese klubs gelok.

Daar is gerugte dat die WP-losvoorspeler Jaco Coetzee die Kaap vir ’n Europese klub kan verruil. Foto: Getty Images
Bayonne in Frankryk het verlede week gesê hy stel belang in die Suid-Afrikaner se dienste en Rugby365 berig Bath in Engeland is ook nou gretig om Coetzee te betrek as plaasvervanger vir die belowende Engelsman Zach Mercer.
Die 23-jarige Mercer se besluit om na Montpellier te verkas is ’n verrassing aangesien die agtsteman ’n gunsteling was om weer deur Eddie Jones in Engeland se groep ingesluit te word. Sy besluit om hom by die ryk Top-14-span aan te sluit beteken egter sy toetsloopbaan is vir eers van die baan. Mercer het voorheen twee toetse vir die Rose gespeel.
Dit maak egter die deur vir Coetzee (24) oop om sy loopbaan by Stuart Hooper se Bath voort te sit.
Coetzee, wat vanjaar uitstekend in die Curriebekerreeks vertoon, is in Saterdag se halfeindstryd teen die Haaie op ’n draagbaar van die veld.
Dié produk van Glenwood in Durban het in 2014 ’n wedstryd vir die Suid-Afrikaanse Skolespan gespeel. Hy is deur die Haaie-akademie betrek voordat hy om in 2017 in die Kaap gevestig het.
Coetzee, wat in Pretoria gebore was, is saam met Beka Gorgadze van Georgië in Bayonne se visier. – Sportredaksie