Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Everitt ‘bestuur’ Curwin-hulle se werkslading
Sean Everitt het 'n paar planne met die Haaie in die voorbereidingsreeks. Foto: Gallo

Die afwesigheid van spelers soos Curwin Bosch en Lukhanyo Am op die Haaie se spanlys vir die KwaZulu-Natallers se eerste wedstryd van die seisoen is vanweë ’n strategiese plan om hul werkslading te bestuur.

So het Sean Everitt, dié span se afrigter, Vrydag tydens ’n mediakonferensie sy spankeuses vir Sondag se kragmeting teen Griekwas in Durban verduidelik. Dit is dié twee spanne se eerste wedstryd in die voorbereidingsreeks.

“Ons het ons groep van 45 spelers in twee gedeel. Wat ons gedoen het, is om diegene wat baie gespeel het (in die Superrugby Unlocked- en Curriebeker-reekse) te identifiseer.

Ons het ons groep van 45 spelers in twee gedeel. Wat ons gedoen het, is om diegene wat baie gespeel het (in die Superrugby Unlocked- en Curriebeker-reekse) te identifiseer.
Sean Everitt

“Maar ons het ook gekyk na die werkslading wat daardie spelers sal hê in die internasionale seisoen, sowel as die Reënboogbeker-kompetisie en die Pro16,” sê Everitt.

“Ons het gevoel dat daar nie baie tyd tussen die toernooie vir ’n blaaskans is nie. So dit is ’n geleentheid om daardie ouens (soos Bosch en Am) ’n voorseisoen in die kleine te gee.”

James Venter sal ná ’n goor 2020-seisoen uitgehonger wees om weer te wys wat in hom steek. Foto: Gallo Images

Everitt het verder verduidelik dat van die spelers wat nou in die ander groep is, en basies met ’n voorseisoen besig is, weer vir die derde kragmeting oorweeg sal word.

Maar die Durbaniete stoot steeds ’n sterk span teen die Poubloues in die veld. Spelers soos Aphelele Fassi (heelagter), Werner Kok (vleuel), Manie Libbok (losskakel) en James Venter (flank) sal boonop gretig wees om hul staal te toon.

Met Venter (24), ’n oopkantflank, wat maar min rugby in 2020 gespeel het, het Dylan Richardson homself in die Haaie se nr. 6-trui gevestig.

“Ek is uit die aard van die saak baie opgewonde om James terug te hê. Hy is ervare en daar is redes hoekom ons hom na die Haaie gebring het,” sê Everitt.

“James het ongelukkig aan die begin van die Superrugby Unlocked-reeks ’n besering en toe harsingskudding en daarna Covid-19 opgedoen.

Hy het beslis nie ’n goeie einde tot die 2020-seisoen gehad nie. So dit is goed om hom terug te hê.
Sean Everitt

“Hy het beslis nie ’n goeie einde tot die 2020-seisoen gehad nie. So dit is goed om hom terug te hê.”

Anders as die Haaie, stoot Griekwas basies dieselfde span in die veld as wat in 2020 diens gedoen het.

Die oud-Haai Stefan Ungerer, ’n skrumskakel, maak wel sy buiging vir die Noord-Kapenaars. Met Zak Burger wat ’n Bul word, kry Ungerer ’n gulde geleentheid om die nr. 9-trui syne te maak.

George Whitehead, losskakel, is as die Poubloues se kaptein aangewys.

Die losskakel George Whitehead sal Griekwas Sondag op die veld lei. Foto: Gallo Images

Die span se breier, Scott Mathie, het nie doekies omgedraai oor hoe bly hy is om die ervare Whitehead, wat in 2020 lank met ’n besering langs die kantlyn was, weer te kan kies nie.

“Ek dink ons het George se leierseienskappe gemis. Maar nie net dit nie, ook sy vermoë met die skopvoet, so dit is lekker om hom terug te hê,” sê Mathie.

“Dit is goed om kontinuïteit in die span te hê. Natuurlik mis ons vir Zak, Adré (Smith, slot) en Johan (Momsen, agtsteman), maar verder is ons gevestig.”

Die spanne is:

Haaie: Aphelele Fassi, Werner Kok, Jeremy Ward (k), Murray Koster, Manie Libbok, Grant Williams, Phepsi Buthelezi, Thembelani Bholi, James Venter, Hyron Andrews, JJ van der Mescht, Michael Kumbirai, Kerron van Vuuren, Khwezi Mona. PLAASVERVANGERS: Fezokuhle Mbatha, Ntuthuka Mchunu, John-Hubert Meyer, Reniel Hugo, Mpilo Gumede, Jaden Hendrikse, Jordan Chait, Thaakir Abrahams.

Griekwas: James Verity-Amm, Daniel Kasende, Harlon Klaasen, André Swarts, Eduan Keyter, George Whitehead (k), Stefan Ungerer, Sibabalo Qoma, Stefan Willemse, Gideon van der Merwe, Cameron Lindsay, Mzwanele Zito, John-Roy Jenkinson, Alandré van Rooyen, Mox Mxoli. PLAASVERVANGERS: HJ Luus, Andrew Beerwinkel, Tijde Visser, Ewan Coetzee, Jo-Hanko de Villiers, Ashlon Davids, Tinus de Beer, Ederies Arendse, Bandisa Ndlovu, Carl Els, Berton Klaasen.

Skeidsregter: AJ Jacobs

Assistent-skeidsregters: Paul Mente en Archie Sehlako.

TV-skeidsregter: Marius Jonker.

Afskop: Sondag 17:15 (kanaal 211 op DStv).

 

Meer oor:  Sean Everitt  |  James Venter  |  Manie Libbok  |  Durban  |  Kimberley  |  Haaie  |  Voorbereidingsreeks  |  Afrigter  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.