Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Everitt nie bekommerd oor tandelose Haaie

Nie naastenby die Haaie wat ’n paar maande gelede die voorloper in Superrugby was nie, maar dit was te wagte, het Sean Everitt, die span se hoofafrigter, gesê.

Dat die besoekers Saterdag in die eerste helfte teen die Bulle so afgetjop het in die Superfan-losmaker op Loftus Versfeld, het vriend en vyand verras.

Die Bulle was ná ’n halfuur reeds met 35-0 voor en het, danksy ’n beter Haaie-vertoning ná die rustyd, met 49-28 geseëvier.

Wedstryde soos dié is baie selde ’n ware rigtingwyser vir ’n span en die Haaie was boonop in die agterlyn sonder Aphelele Fassi, Sbu Nkosi en Makazole Mapimpi.

Jason Jenkins, slot van die Bulle, loop hom Saterdag op Loftus teen Sikhumbuzo Notshe (links) en John-Hubert Meyer vas. Die Haaie se keerwerk was met tye in die eerste helfte nie te waffers nie. Foto: Gallo Images

Die Springbokke André Esterhuizen (London Harlequins) en Louis Schreuder (Newcastle Falcons) is ook sedertdien oorsee om hul loopbane in Engeland te gaan voortsit.

Die Haaie het Saterdag veral Esterhuizen se kragspel in die middelveld gemis.

Dit was egter eerder die span se foute in die eerste helfte, en nie soseer dié spelers se afwesigheid nie, wat tot die uitslag aanleiding gegee het, sê Everitt.

“Die telling is nie wat ons gesoek het nie. Ons wou geleenthede skep uit omgekeerde besit en dit is waarom ons op hangskoppe gefokus het.

“Ongelukkig was ons onakkuraat in dié afdeling en dit het ons drie drieë gekos. Dit is iets waaraan ons sal werk.

“Ons het in ’n stadium die bal op die Bulle se doellyn verloor en hulle het 100 m genael vir ’n drie.

“Dit is nie maklik om so gou 35 punte teen jou te hê en dan die situasie te probeer omkeer nie.”

Everitt het erken die Bulle het hulle by die afbreekpunte op die agtervoet gedwing, waar Marco van Staden deurgaans ’n oorlas van homself gemaak het.

“Jy moet die Bulle lof gee. Hulle was fisiek en uitstekend by die afbreekpunte waar hulle ons besit vertraag het.

“Ek glo dit was die regte besluit om ’n onervare groep te kies, want ons het soveel talent en jy kon dit in die tweede helfte sien.

“Die span het toe goed gevaar en die Bulle onder druk gehad met die tipe rugby wat ons wil speel.”

Die losvoorspelers James Venter en Henco Venter sal Maandag voluit saam oefen en Madosh Tambwe (vleuel) en Boeta Chamberlain (losskakel) behoort ook oor twee weke teen die Leeus te kan speel.

* Puntemakers:

Bulle 49 (35): Drieë: Schalk Erasmus, Stedman Gans, Kurt-Lee Arendse (2), Travis Ismaiel, David Kriel (2). Doelskoppe: Morné Steyn (5), Chris Smith (2).

Haaie 28 (7): Drieë: Grant Williams, Marius Louw, Dan Jooste, Jaden Hendrikse. Doelskoppe: Curwin Bosch (2), Jordan Chait (2).

Meer oor:  Haaie  |  Bulle  |  Superfan-Wedstryde  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.