Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Everitt nie spyt oor Roos nou by WP blom
Evan Roos op pad doellyn toe met Jaden Hendrikse wat vergeefs hom probeer keer. Foto: Gallo Images

Evan Roos is deur die Haaie van sy kontrak vrygestel omdat hulle gemeen het dit is in sy beste belang en daarom is Sean Everitt, afrigter van die Haaie, nie spyt dat dié juweel van ’n losvoorspeler in die Westelike Provinsie se hande beland het nie.

Roos (21), wat stilletjies Kaap toe gekom het op dieselfde tyd as wat die Haaie vir Siya Kolisi gekontrakteer het, was Woensdagaand onder die WP se uitblinkers in hul naelskraapse oorwinning van 32-31 oor die Durbaniete.

Die drie wat hy vroeg in die tweede helfte met ’n kraglopie gedruk het gaan waarskynlik onder vanjaar se Curriebeker-hoogtepunte tel.

Jaden Hendrikse, die Haaie se skrumskakel, het aan hom gehang, maar Roos kon sy bene oor etlike meters steeds hard genoeg pomp om by die doellyn uit te kom.

Ofskoon daar nog heelwat is om aan te skaaf, lyk dit of Roos ’n baie invloedryke speler vir die WP en Stormers gaan raak.

“Ek is nie spyt wanneer spelers besluite neem om huis toe te gaan nie,” sê Everitt oor Roos, ’n oudleerling van die Hoër Jongenskool Paarl.

“Pieter-Steph du Toit het ons destyds verlaat om nader aan sy familie te wees en Evan het dieselfde gedoen. Ek is bly dat dinge vir Evan uitgewerk het. Om in die gemak van sy huis naby aan sy ouers te wees, het Evan met selfvertroue toegerus.

Ons het altyd geweet dat Evan geweldig baie potensiaal het. Hy was as ’n 19-jarige reeds o.21-Speler van die Jaar.
Sean Everitt

“Ons het altyd geweet dat Evan geweldig baie potensiaal het. Hy was as ’n 19-jarige reeds o.21-Speler van die Jaar. Dit was nie ’n geval van ons wat van hom ontslae wou raak nie. Hy wou bloot net huis toe gaan.”

Daar was darem ook ’n oud-Boishaier wat Woensdagaand vir Everitt laat glimlag het – die blitsige vleuel Thaakir Abrahams. Dié voormalige Junior Springbok het die WP telkemale na lug laat gryp wanneer hy die bal onder sy arm gehad het.

“Dit sal ’n bietjie onregverdig wees om hom met ’n jong Sergeal Petersen of Cheslin Kolbe te vergelyk. Hy’s nie die grootste speler nie, maar het ongelooflike voetwerk en vaart,” sê Everitt.

Die jong vleuel Thaakir Abrahams by ’n Haaie-oefening. Foto: Gallo Images

“Thaakir is sedert hy die skool verlaat het by ons. Ons voel hy’s nou gereed om gereeld te speel. Ek’s baie bly vir sy onthalwe dat hy goed gespeel het, want hy werk geweldig hard en is ook ’n baie goeie ou.”

Everitt was ondanks die nederlaag nie in sak en as nie.

Trouens, die Haaie se voorspelers het die oorhand gehad en daar’s genoeg rede om optimisties te wees oor die pad vorentoe.

“Dis teleurstellend, want ons het in die eerste helfte soveel reg gedoen. Ons het die oorhand in die rolmaalbewegings gekry en die stryd in die vaste fasette gewen,” sê Everitt.

“Ongelukkig het die wiele in die laaste 20 minute afgekom. Ons sal beter as dit moet wees om teen goeie spanne soos die WP te kan wen.”

Hoogtepunte van die WP se sege oor die Haaie:

 
Meer oor:  Sean Everitt  |  Evan Roos  |  Kaapstad  |  Durban  |  Haaie  |  Wp  |  Afrigter  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.