Die dae dat rugbyspanne wat van kampioenskap-stoffasie is net bestaan uit ’n 23-tal én hou by ’n wedstrydplan of dit by wyse van spreuke hael of sneeu, is lankal getel.
Ná die eerste naweek van wedstryde in die voorbereidingsreeks, is dit vir almal duidelik dat spanne soos die Haaie en Bulle oor baie diepte beskik.

Die Haaie se Manie Libbok probeer verby Tijde Visser, plaasvervangerstut van Griekwas, systap in Sondag se wedstryd op Kingspark in Durban. Foto: Gallo Images
Nie een van dié twee spanne, wat loshande die beste in die 2020-seisoen gevaar het, het die naweek hul sterkste spanne in die veld gestoot nie.
In die Haaie se geval was hulle selfs sonder sterre soos Curwin Bosch (losskakel), Sbu Nkosi (vleuel) en Dylan Richardson (flank) gans te sterk vir Griekwas in Durban.
Die tuisspan het met 35-10 gewen.
Behalwe dat ’n onbekende soos Murray Koster (senter) sy hand opgesteek het, het spelers soos Aphelele Fassi (heelagter) en Werner Kok (vleuel) opnuut hul waarde onderstreep.
Sou die Haaie dus in die toekoms ’n paar spelers aan die Springbokke afstaan, kan die Durbaniete se afrigter, Sean Everitt, met ’n geruste hart op die volgende spelers in die ry se knoppie druk.
“Ek is baie gelukkig met die jonges. Hulle het net twee dae se voorbereiding gehad. Ek het gevoel hulle het die regte benadering gehad en wou met die bal in die hand gespeel het. Die weer het dit toegelaat en dit is wat ons wou gedoen het,” het Everitt ná sy span se sege Sondag gesê.
“Ek is baie opgewonde oor die positiwiteit en energie wat daar op die veld was – dit nadat ons vir drie weke ’n ruskans gehad het.”
Everitt was ook vol lof vir die plaasvervangerstut Ntuthuka Mchunu, wat die Noord-Kapenaars laat brul het toe hy opgestuur is.
“Hy het opgekom en vir ons ’n strafskop by ’n skrum gewen. Ek het regtig gedink hy was uitstaande, ook met sy ywer en sy lopies met die bal en op die verdediging.
“Daar was ook goeie vertonings deur Murray Koster, wat ook sy debuut gemaak het, en die jong Thaakir Abrahams (veelsydige agterspeler) – hy het ook ’n goeie drie gedruk. “So in die algemeen is ek baie gelukkig met die span se vertoning, en hierdie span sal net aanhou groei.”
Maar weet gerus dat van die jonges nie daarmee tevrede gaan wees om bloot tweede in die ry te staan nie. Everitt weet dat van daardie spelers honger is en ’n punt het om te bewys.
“Ons weet as ’n span vir ’n tyd saam is, sal hy beter en beter word. Hulle almal sou meer geleenthede in die Curriebeker-reeks wou gekry, maar hulle het nou speelkans gekry.
“Jy kan sien hoekom hulle vol energie op die veld was. Maar in dieselfde asem veg hulle nou vir plekke in die span vir die latere wedstryde in hierdie voorbereidingsreeks. Die mededinging gaan straf wees as ons ons sterkste span teen die einde begin kies,” het Everitt gesê.
Behalwe vir die vertoning van die jonges, was een van die ander aspekte die tipe rugby wat die Durbaniete gespeel het.
Daar is onlangs in die noorde van die land gespot dat die enigste keer wat die Haaie met die bal hardloop, is wanneer hulle op die veld draf.
Daar steek wel ’n bietjie waarheid daarin, met ’n losskakel soos Bosch wat sake graag met sy voet dikteer.
Maar wat ’n mens ná Sondag met Manie Libbok op losskakel weet, is dat hierdie Haaie ook kan hardloop met die bal – en dit boonop baie goed kan doen.