Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Everitt tevrede, maar dit lol met afbreekpunte

Die skrums en lynstane lyk beter. Nou vir die afbreekpunte.

Voor hul Superrugby Unlocked-kragmeting met die Pumas die afgelope Saterdag in Mbombela, het die Haaie hard aan hul vaste fasette gewerk.

Marius Louw beur vorentoe met ’n Puma op sy rug en sy spanmaat Dylan Richardson by vir ondersteuning. Foto: Gallo Images

Die Bulle het hulle die vorige naweek daar behoorlik gekarnuffel, maar die harde werk het vrugte afgewerp – teen die Pumas was hul skrums en lynstane sommer stukke beter.

Die Haaie het twee drieë van rolmaalbewegings af gedruk in hul sege met 42-19.

“Ek is bly oor die sege, want verlede jaar is ons hier geklop. Dit is nie gereeld dat ons goeie oorwinnings hier behaal nie, so ons sal ons busrit terug geniet,” het Sean Everitt, die Haaie se breier, ná die wedstryd gesê.

“Dié week wou ons aan ons vaste fasette skaaf en dit het goed gewerk vanaand. Ons is beloon vir goeie skrumwerk en ons het twee rolmaal-drieë gedruk, wat verblydend is. Ons het nie ’n lynstaan verloor nie.”

Maar, maan hy, “daar is nog werk wat voorlê”.

“Ons werk by die afbreekpunte het nog aandag nodig. Teen die Bulle het dit ons in die steek gelaat en Jeandré Rudolph (Pumas-flank) was baie goed met die bal. Ons sal dit moet regruk, anders gaan dit probleme veroorsaak.”

Jeandré Rudolph het die Haaie se afbreekpunte ontwrig. Foto: Gallo Images

Everitt was ook gefrustreerd met die Haaie se dissipline in die tweede helfte, wat die Pumas so byna toegelaat het om terug in die wedstryd te kom.

“Ons sal na die strafskoppe moet kyk wat ons afstaan. Ons moet daaraan werk, want dit het ons onder druk geplaas in die tweede helfte.”

Baie van dié strafskoppe was ook te wyte aan stadige skoonmaakwerk by die afbreekpunte. As James Venter terugkeer, behoort sake by die afbreekpunte weer beter te verloop.

Everitt was nietemin tevrede met sy spelers se ywer.

“Ons is baie tevrede met die uitslag, die ouens het goeie energie uitgestal vir die volle 80 minute.”

Die Haaie speel Vrydagaand teen die Cheetahs in Durban.

Puntemakers: Haaie 42 (28): Drieë: Manie Libbok, Madosh Tambwe, Dan Jooste, Sbu Nkosi, Kerron van Vuuren (2). Doelskoppe: Curwin Bosch (6).

Pumas 19 (7): Drieë: Francois Kleinhans, Erich Cronjé (2). Doelskoppe: Fiela Boshoff (2).

Meer oor:  Haaie  |  Pumas  |  Sean Everitt  |  Superrugby Un­Locked
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.