Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
F-woorde vlieg rustyd oor ‘negatiwiteit’
Duane Vermeulen
Duane Vermeulen praat hard met sy spanmaats tydens rustyd. Foto: Chasing the Sun

“Ouens, daar is ’n kleinhuisie vol negatiwiteit daarbuite. Elke ou het iets f****n negatief om te sê. Wees positief of hou jou f****n bek. Ons kan nie ’n f****n toetswedstryd so wen nie.”

Aan die woord: die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen. Die ligging: die Bokke se kleedkamer tydens rustyd van hul Wêreldbekerkwarteindstryd verlede jaar teen Japan. Die rede vir sy gekruide taal: ’n telbord wat ’n skrale voorsprong van slegs 5-3 aantoon.

Soos in die eerste drie episodes van SuperSport se uitmuntende Chasing the Sun-reeks, oor die Springbokke se pad na Wêreldbeker-glorie, kan kykers in vandag se vierde episode heelwat gekruide taal, en ook heelwat insiggewende agter-die-skerms-beeldmateriaal verwag.

Dié voorlaaste episode word vanaand om 18:00 op M-Net uitgesaai. Dit fokus op Suid-Afrika se kwarteindstryd teen Japan en halfeindstryd teen Wallis – twee wedstryde wat ’n groot toets vir ondersteuners, afrigters en die spelers se senuwees was.

Om die gasheernasie in die kwarteindstryd te pak, was veral moeilik, omdat die hele rugbywêreld agter Japan gestaan het in die hoop dat hul sprokiesverhaal sou voortduur. Die Bok-breier, Rassie Erasmus, en sy span het vanselfsprekend ’n ander uitkyk op die saak gehad.

As Japan ons na die dansvloer toe geneem het, sou ons gesukkel het, veral omdat hulle klein spelers is.

“Met Japan was dit so: Hulle wou ons na die dansvloer neem. En ons wou hulle na die gutters sleep,” sê Erasmus.

“As Japan ons na die dansvloer toe geneem het, sou ons gesukkel het, veral omdat hulle klein spelers is. As Frans Malherbe hiernatoe en daarnatoe moet hardloop, speel hulle met hul siel, en hulle vat ons siel weg. Ons wou hulle vat na ’n ander plek – ’n plek waar hulle nie gemaklik sou wees nie.”

Die episode lig die sluier ook oor die waarde wat die nie-spelende Bokke toegevoeg het; hoe Erasmus besluit het dat ’n wedstrydplan wat “vervelig” vir toeskouers is, nodig sou wees om Wallis te klop; en die sage agter die beserings wat amper Willie le Roux en Cheslin Kolbe se Wêreldbeker beëindig het.

Die wedstryd teen Wallis word in die tweede helfte van die episode herleef. Die Bokke se voorspeler-afrigter, Matt Proudfoot, sê die Drake het ’n groot uitdaging gebied. “Ons het hulle in vier jaar nie geklop nie. Ons het nie geweet hoe nie,” sê Proudfoot.

Erasmus het die Walliesers opgesom as ’n span wat jou “wil verwurg en jou verveel sodat jy probeer speel”.

Soos in episode 2 en 3 (en sekerlik ook in volgende week se laaste aflewering) lewer die Bok-vleuel Makazole Mapimpi een van die onvergeetlikste oomblikke van die program.

Die spoedvraat is die hele week uitgevra oor sy tweestryd met Japan se “Ferrari”, die vleuel Kotaro Matsushima.

Mapimpi het sy vyfde drie in twee wedstryde teen Japan gaan druk en vertel hoe hy Matsushima daarna gesoek het. “Ek het omgekyk vir die Ferrari . . . maar hy was nêrens nie.”

Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Japan  |  Chasing The Sun
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.