Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Faf ‘een van invloedrykste spelers’

Daar is in 2017 kwistig voorspel dat Faf de Klerk se toetsloopbaan van korte duur was.

Die Springbok-skrumskakel Faf de Klerk was Sondag weer in aksie vir sy Engelse klubspan, die Sale Sharks. Foto: Getty Images

Dié skrumskakel, wat toe nog vir die Leeus gespeel het, het duidelik in onguns gekom ná die Springbokke se rampspoedige en treurige 2016-seisoen onder die vorige afrigter, Allister Coetzee.

De Klerk, wat in sy debuutjaar in nege van die Bokke se 12 toetse in die beginspan was, het in 2017 nie náby aan die span gekom nie.

Ross Cronjé, Francois Hougaard, Rudy Paige en Louis Schreuder is bo die blonde buks verkies.

Hoewel Coetzee dit nooit in soveel woorde gesê het nie, is De Klerk as te eendimensioneel en beperk vir toetsrugby beskou, en daar was straks genoeg “bewyse” om hom dit toe te gee.

Die skrif was behoorlik aan die muur toe selfs die Leeus De Klerk later weggelaat het.

Dit is – net meer as twee jaar later – dus byna ondenkbaar dat die Engelsman Stuart Barnes, wat dikwels ’n bitterbek is wanneer Suid-Afrikaanse rugby ter sprake kom, De Klerk die naweek in ’n rubriek as een van die mees invloedryke spelers in wêreldrugby bestempel het.

Barnes meen De Klerk is, soos wat Jonah Lomu, Jonny Wilkinson, Bryan Habana, Dan Carter en Richie McCaw by vorige WB-toernooie supersterre geword het, nou in dieselfde geselskap.

“Hy is klein van statuur en dit is die aanloklike deel van sy persona.

“Dít en daardie blonde lokke. Selfs my vrou, wat min rugby kyk, weet wie Faf is,” skryf Barnes.

Dié voormalige losskakel van Engeland sê hoewel De Klerk nie so “elegant” in die posisie is as wat van sy voorgangers soos Joost van der Westhuizen en Fourie du Preez was nie, “is die invloed van die terriër onbetwisbaar”.

Faf de Klerk se vreeslose onderonsie met die groot Walliese slot Jake Ball het hom nog dieper in die harte van baie ondersteuners laat kruip. Foto: Getty Images

Barnes sê voorts “hierdie mededingende, fisieke skrumskakel, een van die mees herkenbare spelers voor die Wêreldbeker-toernooi, is nou sonder twyfel een van die spel se invloedrykste spelers.

“Hy is een van daardie seldsame spelers wat op sy beste is wanneer die geleentheid dit verlang.”

De Klerk was Sondag vir die eerste keer ná Suid-Afrika se WB-triomf in Japan, terug op sy pos vir sy Engelse klubspan, die Sale Sharks.

Die Sharks het La Rochelle in ’n Europese Kampioenebeker-kragmeting met 25-15 geklop.

Dié WB-wenner word al ’n geruime tyd in Engelse rugby hoog aangeslaan.

Baie gepas, want dit is hier in Manchester waar De Klerk in 2017 aangekom het met die wete dat hy nie goed genoeg is vir toetsrugby nie.


Meer oor:  Stuart Barnes  |  Bokke  |  Springbokke  |  Wêreldbekerrugby  |  Faf De Klerk  |  Sale Sharks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.