Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Faf: ‘Individuele foute knak Bokke’

Hy en sy spanmaats moet ernstige selfondersoek doen ná die Rugbykampioenskap-nederlaag teen die Wallabies as die Springbokke enigsins wil hoop om die All Blacks Saterdag in Wellington skrik te maak.

Só het ’n teleurgestelde Faf de Klerk gesê nadat Suid-Afrika hom Saterdag in Brisbane met 23-18 teen ’n uitgedunde span van Australië in ’n nat Suncorp-stadion vasgeloop het.

Faf de Klerk Saterdag teen die Wallabies in Brisbane in aksie. Foto: Getty Images

“Dit was individuele foute wat ons teen die Wallabies duur te staan gekom het,” het dié skrumskakel gesê.

“Ons hantering was ’n probleem. Ons kan dinge wel omdraai voor die Wellington-toets.

“ ’n Week in rugby is ’n lang tyd. Die ouens wat foute begaan het, weet wat hulle verkeerd gedoen het. Ekself weet ook wat ek gedoen het. As ons volgende week fisiek is, sal ons altyd ’n kans teen die All Blacks staan. Ons sal Maandag op hulle begin fokus.”

Die Bokke het volgens De Klerk die grootste gedeelte van die toets in Brisbane in beheer van sake gevoel.

“Ons het ’n goeie eerste helfte gehad. Dit het die hele wedstryd gevoel of ons in beheer was, maar elke keer as ons deurbreek, maak ons ’n ongedwonge hanteerfout of staan ’n strafskop af. Dis onaanvaarbaar op hierdie vlak.

“Dit was ’n moeilike nederlaag vir ons (teen die Wallabies), aangesien ons verwag het om te wen. Die bal was glad. Daar was geen reën tydens die wedstryd nie, maar die bal was glad vanweë die dou en die humiditeit. Ons het baie gesweet. Albei spanne het egter in dieselfde toestande gespeel.”

Die Bokke se swak afronding in die tweede helfte is ’n groot teleurstelling vir De Klerk-hulle. Hulle het verskeie kanse deur hul vingers laat glip om die eerste oorwinning sedert 2013 in Australië te behaal.

Ek dink werklik die All Blacks kan geklop word.
Faf de Klerk

“Ons kan tevrede met die eerste helfte voel. In die tweede helfte het ons kanse geskep, maar dan die bal aangeslaan. Dalk was dit ’n insinking in ons konsentrasie. Ek dink ons wedstrydplan was reg, ons kon net nie die uitklophou plant nie.

“Iets wat ons beslis moet verbeter, is om ons balbesit beter te beskerm. Ons moet ook beter beheer behou as ons omgekeerde balbesit wen. Ons is gevaarlik as ons vinnige balbesit kry. Ons sal ons hanteerfoute eenvoudig moet beperk en die tempo van die wedstryd moet probeer beheer.

“Ek dink werklik die All Blacks kan geklop word. Maar dit gaan taai wees. Veral in ’n wegtoets teen hulle. Hulle is ’n baie goeie span met ongelooflike diepte. Dit maak nie saak wie hulle kies nie, almal is byna ewe goed.

“Dit sal ’n groot uitdaging wees. Maar ons is ’n klomp goeie ouens in die groep. Ons wil hulle graag klop en die nasie trots maak. Ons gaan alles gee teen hulle. Australië het gewys hulle het een of twee swakpunte.”

Om egter mededingend in Wellington te wees en ’n herhaling van 2017 se slagting van 57-0 teen die All Blacks in Albany te vermy, sal De Klerk, Elton Jantjies en Willie le Roux, onder andere, ’n groter invloed op die spel moet hê. Hulle sal nie net hul foute moet verminder nie, maar beter oordeel aan die dag moet lê. Hul besluitneming was met tye swak in Brisbane.

Die taak wat in Wellington op De Klerk-hulle wag, word deur die statistiek onderstreep dat Suid-Afrika laas in 2009 in Nieu-Seeland kon wen. Die Bokke benodig ’n wonderwerk vir ’n skoksege oor die All Blacks.

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae


Meer oor:  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Wallabies  |  Faf De Klerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.