Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Faf, Malcolm benoem vir spogprys
Malcolm Marx in Pretoria teen die All Blacks in aksie. Foto: Gallo Images

Twee Springbokke sal hoop om die eerste Suid-Afrikaner in nege jaar te word om as Wêreldrugby se Speler van die Jaar aangewys te word.

Die skrumskakel Faf de Klerk en die haker Malcolm Marx is twee van die vyf benoemdes vir dié gesogte eerbewys, het Wêreldrugby Vrydag in ’n verklaring aangekondig.

De Klerk en Marx sal sake teen twee All Blacks, Beauden Barrett en Rieko Ioane, en die Ierse losskakel Johnny Sexton om die titel uitspook. Die wenner word op 25 November in Monte Carlo bekendgemaak.

Bryan Habana was die laaste Bok om met dié eerbewys bekroon te word. Hy is in 2007 as die beste speler in die wêreld gereken.

Nog net een ander Suid-Afrikaner, Schalk Burger in 2004, is as Wêreldrugby se Speler van die Jaar aangewys.

Faf de Klerk het vanjaar as een van die Bokke se sleutelspelers na vore getree. Foto: Gallo Images

De Klerk en Marx is die eerste Springbokke in vier jaar om benoem te word. In 2014 is Willie le Roux en Duane Vermeulen, albei tans sleutelspelers in Rassie Erasmus se Springbok-span, benoem.

Vanjaar se kortlys is saamgestel uit die voormalige toetsspelers Richie McCaw, John Smit, George Gregan, Maggie Alphonsi, Clive Woodward, Brian O’Dricsoll, Fabien Galthié en Agustín Pichot.

Ondersteuners en die media kon ook hul sê sê, terwyl internasionale kapteins en afrigters hulle nou by die paneel gaan aansluit wat die wenner gaan kies.

Indien die paneel besluit om die 27-jarige Barrett te vereer, sal hy die eerste speler word om dié eerbewys drie jaar agtereenvolgens op te raap.

Indien een van Marx, De Klerk of Sexton die titel wen, sal dit die eerste keer in sewe jaar wees dat ’n speler van buite Nieu-Seeland as die Speler van die Jaar gekroon word.

Die Fransman Thierry Dusautoir het dié titel in 2011 gewen, waarna All Blacks elke jaar met dié eerbewys weggestap het.

Die vyf vroue-benoemdes is Pauline Bourdon (Frankryk), Fiao’o Faamausili (Nieu-Seeland), Gaëlle Hermet (Frankryk), Safi N’Diaye (Frankryk) en Jessy Trémoulière (Frankryk).

Vorige manswenners:
2017 – Beauden Barrett (NS), 2016 – Beauden Barrett (NS), 2015 – Dan Carter (NS), 2014 – Brodie Retallick (NS), 2013 – Kieran Read (NS), 2012 – Dan Carter (NS), 2011 – Thierry Dusautoir (Fr), 2010 – Richie McCaw (NS), 2009 – Richie McCaw (NS), 2008 – Shane Williams (Wal), 2007 – Bryan Habana (SA), 2006 – Richie McCaw (NS), 2005 – Dan Carter (NS), 2004 – Schalk Burger (SA), 2003 – Jonny Wilkinson (Eng), 2002 – Fabien Galthié (Fr), 2001 – Keith Wood (Ier).
 

Meer oor:  Malcolm Marx  |  Faf De Klerk  |  Londen  |  Rugby  |  Wereldrugby  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.