Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Faf stuur Sale Sharks tot groot sege oor Bristol

Die Sale Sharks, gelaai met ses Suid-Afrikaners in hul beginspan, het Saterdag vir die Bristol Bears met 40-7 van die veld gespeel by die AJ Bell-stadion in Engeland.

G’n kyker sou voor die wedstryd kon glo nie dat só ’n drag slae wag op Bristol, wat vooraf die tweede plek op die Engelse Premierliga se punteleer beklee het.

Faf de Klerk van Sale Sharks trek sy ore plat op pad doellyn toe teen Bristol. Foto: Getty Images

Die terugkeer van verlede jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi se finaliste Faf de Klerk, Tom Curry en Manu Tuilagi was ’n welkome een vir die Sale Sharks.

Nog voor die eerste kwart van die speeltyd verstreke was, het Bristol hulself reeds met hul rug teen die muur gevind toe Sale Sharks ’n 21-0 voorsprong opgejaag het.

Die heelagter, Luke James, en vleuel Denny Solomona het albei gaan druk voordat ’n uitstekende stukkie gekombineerde spel deur laasgenoemde en Jean-Luc du Preez tot ’n drie vir De Klerk, wat self perfek geplaas was met sy ondersteuning, gelei het.

Bristol se enigste ligpunt voor rustyd het gekom toe die losskakel AJ MacGinty met ’n swak aangee wyd probeer uitgee het en dit deur Alapati Leiua onderskep is wat 45 m genael het vir sy span se enigste drie in die eerste helfte.

Bristol, wat deur Pat Lam gebrei word, kon nooit van dié blitzkrieg herstel nie en ofskoon die span later ietwat beter vertoon het, het die stoomroller in die vorm van ’n doelgerigte Sale Sharks deurlopend in hul kwartgebied geboer.

De Klerk se hangskoppe het Bristol onder groot druk geplaas met sy vinnige verspreiding wat gereeld gapings in die verdediging geskep het.

Hy was ná rustyd weer ’n pes vir sy teenstanders.

Hy het ’n hand gehad in twee van Sale Sharks se drieë vroeg in die tweede helfte om die span tot ’n voorsprong van 40-7 te help voordat hy ’n blaaskans gegee is.

Nie een van die twee spanne kon daarna weer punte aanteken nie.

Asof die skade op die telbord nie genoeg was nie, het Rohan Janse van Rensburg ook as plaasvervanger vir Sale Sharks opgekom en kort daarna vir Bristol se Ioan Lloyd só hard platgetrek dat die spandokter moes kom loer of dié nog oukei is.

Verder het Akker van der Merwe op haker uitgeblink met ’n paar kraglopies, hoewel sy ingooiwerk by die lynstane nog aandag kort.

Die hemelbesem Lood de Jager was oudergewoonte ’n rots op die verdediging, terwyl Coenie Oosthuizen ook nie sleg gevaar het in die skrums nie.

Sale Sharks het met dié oorwinning die tweede plek op die puntelys ingeneem.

Exeter Chiefs (59) lê steeds voor, met Sale (50) en Bristol (48) wat volg. – Sportredaksie

* Puntemakers

Sale Sharks 40 (26): Drieë: Luke James (2), Denny Solomona, Faf de Klerk, Sam James, Marland Yarde. Doelskoppe: AJ MacGinty (5).

Bristol Bears 7 (7): Drie: Alapati Leiua. Doelskop: Tiff Eden.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.