Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Familiebande trek Robert terug na SA

“Ná agt jaar in Frankryk is dit nou tyd vir my om te groet. Dankie vir almal wat my pad gekruis het. Nou gaan ek huis toe, na Afrika toe.”

Die Ebersohn-gesin in ’n sonneblomland by Saint-Martial by Castres. Mariza, wat Lienke vashou, Robert en Christiaan glimlag breed.

Dit is hoe die voormalige Vrystaatse senter Robert Ebersohn (32) Frankryk (in Frans) gegroet het. Hier het hy rugby vir onder meer die klubspanne Montpellier, Castres Olympique asook Béziers gespeel.

Ebersohn sluit hom in Augustus weer by die Cheetahs in Bloemfontein aan, waar alles vir hom in 2008 by die Shimlas begin het voordat hy in 2013 koers gekies het Frankryk toe.

Hy het ook tussen 2005 en 2007 vir die Vrystaat se junior spanne uitgedraf.

Hoewel dit nie die oorwegende rede vir sy terugkeer is nie, wil Ebersohn ook naby sy suster, Anneri Moolman, wees. Fase 2-borskanker is op 20 September 2019 by Moolman gediagnoseer, hoewel die kanker sedertdien in remissie is. Moolman het as atleet in hekkies uitgeblink.

Moolman het as atleet in hekkies uitgeblink.

Sy het in April verlede jaar ’n lumpektomie ondergaan en 16 limfkliere is onder haar arm verwyder. Sy het op 13 Julie 2020 haar laaste bestraling gekry.

Die emosie in Ebersohn se stem is duidelik hoorbaar wanneer hy oor sy suster praat. Dit was vir hom sleg dat hy haar nie kon bystaan in haar tyd van nood nie.

Volgens Ebersohn het hy en sy gesin in Frankryk besef hulle het nie veel van ’n ondersteuningsnetwerk nie. Nou is dit tyd om weer by die familie te wees, soos sy tweelingbroer, Sias, wat deesdae met pekanneute by Hartswater in die Noord-Kaap boer.

“Verlede jaar het my dogtertjie, Lienke, ’n koorsaanval gehad pas nadat ek my by Béziers aangesluit het. Ons het nog nie juis die nuwe dorp geken nie.

“Ons moes die hospitaal op die GPS soek en ek het boonop twee keer verkeerde afdraaie gevat, maar gelukkig was dit uiteindelik minder ernstig as wat ons gedink het. Wat wel ’n kwessie was, was dat daar niemand was wat ons kon bel en vra om na ons seuntjie, Christiaan, om te sien nie.

“Dit het my laat besef ons het eintlik niemand hier nie,” vertel Ebersohn uit Frankryk.

Hy is terselfdertyd nie ’n dag spyt oor sy besluit om Frankryk toe te gaan nie. Hy en sy vrou, Mariza, en die kleingoed het almal Franse burgerskap. Hulle het in Januarie verlede jaar die brief in die pos gekry dat hy en sy vrou en seun Franse burgerskap toegestaan is.

Hulle het ’n jaar en ’n half vir die onderhoud voorberei. Lienke het outomaties burgerskap omdat sy daar gebore is.

“Ons moes ook aansoek doen om ons Suid-Afrikaanse burgerskap te behou,” sê Ebersohn

Hy het boonop ’n graadkursus in sakestudie aan die Universiteit van Toulouse voltooi.Hy wil graag betrokke raak by ’n skool of universiteit of ’n instansie wat Frans as taal aanbied, sê Ebersohn. “Ek is rêrig erg opgewonde om terug te kom.”

Robert Ebersohn is eersdaags terug in ’n Cheetah-trui.

Dit was aanvanklik moeilik om in Frankryk aan te pas en die taal aan te leer, vertel Ebersohn.

“Jy leer maar Frans praat deur interaksie, en as jy eers ’n biertjie in het, maak dit die tong lekker glad en gee jy nie om om foute te maak nie, wat eintlik baie help. Dit klink dalk snaaks, maar dis die waarheid.

“Die Franse ouens lag dan lekker vir jou, maar hulle help jou, solank jy nie fyngevoelig is nie.”

Hy sê toe hy destyds by Montpellier aangekom het, was dinge maar deurmekaar omdat hy nie Frans magtig was nie. Eers was Fabien Galthié en later JakeWhite die afrigter.

Teen die einde van die eerste twee en ’n half jaar was Ebersohn wat hy noem “goeie basiese Frans” magtig.

Daarna het hy hom by Castres aangesluit onder die afrigting van Christophe Urios (deedae Bordeaux se breier), na wie hy verwys as een van die beste organiseerders van die spel.

“Onder hom kon ek myself uitleef en ek het presies geweet wat my rol in die span is. Daar was ek onderkaptein en in sommige wedstryde kaptein (in die Heineken-beker-kompetisie) – meestal as daar ’n Engelssprekende skeidsregter was, om sake vir ons so ’n bietjie te vergemaklik.

“My rugby het toe baie ontwikkel.

“By Bordeaux het die Argentyn Mauricio Reggiardo, wat daar as breier oorgeneem het, nes Jake destyds vir my gesê hulle soek ’n senter wat 100+ kilogram weeg. Dit is toe dat my pad met dié klub geëindig het.”

Hy sê hy het dit geniet by Bé­ziers, maar met die Covid-19-pandemie en die geboorte van Lienke op 21 Februarie verlede jaar het dinge net moeiliker vir hulle geraak in ’n dorp waar hulle eintlik niemand geken het nie.

Ná ’n jaar het hy besluit dit is tyd om huiswaarts te keer en nader aan sy familie te wees.

Dis toe dat hy Hawies Fourie, die Cheetah-breier, gekontak het.

“Een van die moeilike vrae ten tyde van die twee uur lange onderhoud was of ons afstand sou doen van ons SA burgerskap.

“Ek en my vrou se antwoord was nee, want as dit vereis sou word, sou ons nooit aansoek om Franse burgerskap gedoen het nie.”

Iets wat die Ebersohns beslis nie gaan mis nie, is die stadige pas in Frank­ryk. “Jy moet weet, as jy agtuur by ’n restaurant aankom en jy bestel jou kos, kry jy eers so teen halftien jou kos. Teen daai tyd gaap ek al.”

Oor sy keuse om met sy terugkeer weer by die Cheetahs in te val, al is die Bloemfonteiners in die spreekwoordelike rugbywoestyn, sê Ebersohn: “Rugby bly rugby en wat lekker is, is die samesyn onder die manne. Hopelik kan ek die Cheetahs nog iets bied.

“Ek wil tog glo met die grysheid kom die wysheid, maar ek moet eers weer my voete daar vind en by die manne inskakel. Daarvoor kan ek nie wag nie.”

Meer oor:  Robert Ebersohn  |  Frankryk  |  Terugkeer  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.