Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Felix nie bitter, bly lojaal aan die OP

Die afrigter Ryan Felix sê hy is nie iemand wat wrokke koester nie, daarom is hy reeds weer besig om sy hart en siel in sy werk by die rugbyunie, wat hom ’n paar jaar gelede verstoot het, te stort.

Ryan Felix geniet dit om weer by OP-rugby betrokke te wees. Foto: Michael Green

Felix (49) is ’n paar weke gelede as die Oostelike Provinsie se o.20-afrigter aangestel en hy help Peter de Villiers, die senior span se afrigter, ook om sy spelers reg te kry vir die Olifante se komende wedstryde.

“Ek gee toe, ek was teen die einde van 2019 baie hartseer toe ek as die OP se hoofafrigter gepos is sonder dat daar eens behoorlik met my gesels is,” sê Felix.

“Ek was voordat ek in 2018 en 2019 as OP-afrigter uitgehelp het lank reeds by die OP se junior spanne betrokke en het gevoel ek verdien beter behandeling.”

In die paar jaar wat Felix die senior span gebrei het, moes hy sy span weens swak samewerking tussen die Southern Kings en die OP-rugbyunie gereeld op kort kennisgewing kies of verander. Mense wat geweet het wat agter die skerms aangaan, kon maar net die kop skud en dankbaar wees dat hulle nie in Felix se skoene was nie.

“Maar ek lewe nie in die verlede nie. Ek is dankbaar dat ek weer as die OP o.20-span se afrigter aangestel is en wil net my beste doen om die OP op alle vlakke sterk te kry,” sê Felix.

Nadat hy in 2019 deur die OP gepos is, het hy weer by klubrugby betrokke geraak in die Baai. Verlede jaar was hy ook vir drie maande een van die Kabras Sugar-span in Kenia se hulpafrigters.

“Ek is reeds besig met my beplanning vir die o.20’s se seisoen. Daar is al ’n groep spelers geïdentifiseer en ek wil ook by talentvolle spelers in die subunies uitkom,” sê Felix.

“Soos die jaar vorder, sal ons algaande met ons oefeninge begin en ek hoop om teen Julie, wanneer ons wedstryde veronderstel is om te begin, my span slaggereed te hê.”

Felix beplan ook om met talentvolle skolespelers in die unie te gesels en om te probeer om hulle in die OP-strukture te kry en daar te hou.

“Die kommunikasie met die unie is tans beter en hier moet ’n mens vir Thando Manana (OP-hoofbestuurder) punte gee. Hy is altyd bereid om na jou te luister,” sê Felix.

Terwyl die o.20’s nog nie volstoom aan die gang is nie, help Felix vir De Villiers, voormalige Springbok-afrigter, met die senior span.

“Ek help Peter ’n oog by die oefeninge hou. Ek probeer om nie in te meng nie en wil net ’n positiewe bydrae lewer,” sê Felix, wat die meeste van die spelers in die huidige OP-oefengroep al die een of ander tyd afgerig het.

Meer oor:  Oostelike Provinsie  |  Opru  |  Peter De Villiers  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.