Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke kan nie van voorspelers alleen leef, maan Jean
Jean de Villiers onthou die Slag van Brighton

Ja, die Springbokke het ’n bielie-pak voorspelers, maar om uitsluitlik daarop staat te maak om Japan in vandag se Wêreldbeker-kwarteindstryd in Tokio te klop, is nie ’n wenresep nie.

Só waarsku Jean de Villiers, wat vir die Bokke voor gedraf het toe die Brave Blossoms hulle in 2015 in Brighton verslaan het.

Damian de Allende, Pieter- Steph
Jy gaan nêrens heen nie! Damian de Allende (links) en Pieter- Steph du Toit stuit Ataata Meakiola van Japan in sy spore in die Wêreldbeker-opwarmwedstryd op 6 September in Koemagaya.

“Jy moet afwisseling hê. Indien nie, sal Japan die Bokke net om die bene duik, by die afbreekpunte meeding en probeer om omkeerbesit af te dwing. Die groot baldraers is belangrik, maar jy moet afwisseling aan die buitekant hê en die kontakpunte kan verskuif,” sê De Villiers in Pro14 Rugby se podsending, Under the Sticks.

Nietemin glo hy steeds die Bokke se agttal kan ’n deurslaggewende faktor wees.

“Dis dieselfde span wat teen Italië gespeel het en die benadering was om die teenstander fisiek te oorweldig, wat die Bokke vermag het.

“Dit was die Bokke se beste vertoning in die Wêreldbekertoernooi. Hulle was aggressief op die verdediging en het momentum op die aanval gekry.”

De Villiers meen die spanne se uiteenlopende sterkpunte gaan dit ’n boeiende stryd maak.

“Japan kan die bal deur baie fases dra. Jy moet hulle van balbesit ontneem, dwing om duikslae te maak en in die proses punte aanteken. Die Bokke gaan baie fisiek wees deur dryfmaalbewegings, sterk skrumwerk en dan met hul sterk baldraers probeer oorheers om Japan se verdediging onder druk te plaas.”

Met die belangrikheid vir afwisseling in gedagte, sal dit belangrik wees dat die skakelpaar, Faf de Klerk en Handré Pollard, asook die heelagter, Willie le Roux, hul balbesit oordeelkundig en akkuraat gebruik.

Die Bokke het reeds gewys hul verdediging en vaste fasette is op die verlangde vlakke om toernooie te wen. Die wyse waarop die Bokke se belangrikste besluitnemers rigting gee, kan hul kanse op sukses verdubbel of sink.

Die Bokke sal danksy hul sterk voorspelers vandag soos ’n 10-ton-trok op Japan afjaag, terwyl die gasheerland met blitse soos Kotaro Matsushima en Kenki Fukuoka soos ’n Ferrari die Suid-Afrikaners met hul vaart aan die buitekant sal wil klop.

De Klerk-hulle moet die 10-ton-trok bestuur.

Rassie Erasmus.
Rassie Erasmus.

In die groepwedstryd teen die All Blacks het De Klerk, Pollard en Le Roux nie as besluitnemers oortuig nie. In Jokohama was hul taktiese skopvertoning nie iets waarop hulle trots kan wees nie.

In Sjizoeoka het dit beter gegaan teen Italië, maar daar is nog ruimte vir verbetering.

Teen Japan kry veral De Klerk die kans om homself terug in die harte van omgekrapte Bok-ondersteuners, of selfs uit die span, te speel.

As deel van die Bokke se huidige wedstrydplan skop hul skrumskakel baie. Dis ’n Of dit nou De Klerk, Cobus Reinach of Herschel Jantjies is, daar sal van wie ookal die negetrui dra verwag word om te skop. taktiese benadering wat grootliks in die Rugbykampioenskap gewerk het en deur die jare doeltreffend in uitkloprugby is.

Vir die Bokke is akkurate lugskoppe ’n belangrike aanvalswapen. Gebeur dit nie, lyk hulle by tye bra gemiddeld. Maar die Bokke meen dit baan die weg om teenstanders deur goeie verdediging in hul halfgebied vas te pen en te wurg.

Speeltoestande in die groepfase van die WB-toernooi was weens die hoë temperature en humiditeit ook bevorderlik daarvoor omdat hanteerwerk moeilik was.

Die Bokke wil net in hul teenstander se helfte rugby speel. Dis De Klerk, Pollard en Le Roux se verantwoordelikheid om die Suid-Afrikaners daar te kry.

Om eerlik te wees, was De Klerk nog nie op sy snykant in Japan nie.

Sy spanmaats waardeer hom vir sy kommunikasie op die verdediging en hy is met sy duikwerk soos ’n lastige vlieg vir opponerende skakelpare. Hy het teenstanders al dikwels met sy druk op hul skakelpare ontspoor, soos met Aaron Smith in 2018 se skoksege oor die All Blacks in Wellington.

Dit kan ook vandag in Tokio die geval wees met Japan se Yu Tamura en Yutaka Nagare, wat onder die grootste druk tot nog toe in hul loopbane gaan wees.

Tamura en Nagare is terloops twee van net agt spelers in die gasheerland se beginspan wat in Japan gebore is. Die ander is Fukuoka, Keita Inagaki, Shota Horie, Kazuki Himeno, Ryoto Nakamura en Ryohei Yamanaka.

De Klerk het sy span ook al dikwels met sy dapperheid op die verdediging gered, maar sal weet Rassie Erasmus duld ’n reputasie net só lank voordat hy spelpeil beloon.

Gelukkig vir die Bokke het Herschel Jantjies vanjaar van die plaasvervangersbank af uitgeblink, terwyl Cobus Reinach se spelpeil ook goed is. De Klerk is dus onder druk om sy beste spelpeil te herwin.

Pollard sal self weer op die vlak wil kom waar hy in die Rugbykampioenskap was. Dalk is dit nie noodwendig ’n slegte ding dat hy nog nie uitgeblink het nie, want jy wil hê jou losskakel moet eers in die uitkloprondes op sy beste wees.

Le Roux se bestendigheid sal onder die vergrootglas wees. Sy uitdaging is onder meer ook om op die aanval sy balverspreiding op die verlangde standaard te kry. Hy het in die verlede baie drieë daardeur geskep.

Siya Kolisi, die Bokke se kaptein, sê die keuse van ses voorspelers op die plaasvervangersbank maak dit voor die hand liggend hoe die Bokke wil speel.

“Ons agterspelers is net so vinnig as hulle s’n, maar ons het ’n groot pak voorspelers. Die afrigters het dit deur die keuse van ses voorspelers op die plaasvervangersbank duidelik gemaak hoe ons gaan speel.

“Japan steek ook niks weg nie. Hulle put trots uit hul fiksheid. Ons steek ook niks weg nie en put trots uit hoe fisiek ons is.”

Volgens Kolisi spook die nederlaag in Brighton steeds by die Bokke.

“Dis bagasie wat ons die afgelope vier jaar dra. Uiteraard was dit ’n puik oomblik vir Japan. Hulle het daarna net beter geraak. Die span teen wie ons nou gaan speel, is baie sterker as die een van vier jaar gelede.

“Ons het sielkundig vir die uitspeelrondes voorberei en ervaar nie druk van die afrigtingspan nie. Ons weet wat ons te doen staan. As ons dit nog nie weet nie, is ons op die verkeerde plek.”

Spanne:

Springbokke: Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Makazole Mapimpi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Duane Vermeulen, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Lood de Jager, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Beast Mtawarira. PLAASVERVANGERS: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, RG Snyman, Franco Mostert, Francois Louw, Herschel Jantjies, Frans Steyn.

Japan: Ryohei Yamanaka, Kotaro Matsushima, Timothy Lafaele, Ryoto Nakamura, Kenki Fukuoka, Yu Tamura, Yutaka Nagare, Kazuki Himeno, Lappies Labuschagné, Michael Leitch (k), James Moore, Luke Thompson, Jiwon Koo, Shota Horie, Keita Inagaki. PLAASVERVANGERS: Atsushi Sakate, Isileli Nakajima, Asaeli Ai Valu, Wimpie van der Walt, Amanaki Mafi, Fumiaki Tanaka, Rikiya Matsuda, Lomano Lemeki.

Skeidsregter: Wayne Barnes (Engeland).Assistent-skeidsregters: Ben O’Keeffe (Nieu-Seeland) en Luke Pearce (Engeland).

Afskop: 12:15.

Bokke gaan met dubbelsyfers wen, voorspel oudspelers en -breiers 

Deur Albert Heenop en Leighton Koopman

Deur Albert Heenop
en Leighton Koopman

Meer oor:  Jean De Villiers  |  Brave Blossoms  |  Brighton  |  Tokio  |  Springbokke  |  Japan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.