Fidji gaan die naweek sy langverwagte buiging in die Nasiesbeker-rugbytoernooi maak nadat die span byna ’n maand lank in kwarantyn moes deurbring.

Fidji se nasionale rugbyspan het oplaas toestemming gekry om die naweek in die Nasiesbeker-toernooi te speel. Foto: Getty Images
Dié Suidsee-eilandspan kon uiteindelik sy Franse hotel verlaat en sal Saterdag teen Georgië uitdraf nadat sy wedstryde teen Frankryk, Italië en Skotland almal gekanselleer is. Dit was nadat bykans die hele span en bestuur enkele dae voor hul eerste wedstryd verlede maand positief vir die koronavirus getoets is.
Sedertdien was die Fidjiaanse groep in ’n hotel in St. Etienne afgesonder en kon hulle aan die begin van dié week eers weer na die oefenveld terugkeer.
“Dit was ’n lekker gevoel om die ouens op die veld te sien oefen, selfs al was dit -4 °C,” het Vern Cotter, die span se afrigter, gesê.
“Ons was vir 14 dae in afsondering, maar ons het nou die geleentheid om nog iets uit hierdie kompetisie te probeer kry.”
Fidji sal op Murrayfield in Edinburg met Georgië swaarde kruis in ’n stryd om die houtlepel te vermy.
“Dit was so teleurstellend, want ons het uitgesien daarna om ons stempel in hierdie kompetisie af te druk. Wanneer dit by Covid kom, kan jy egter nie rondsoek na mense om te blameer nie,” het hy bygevoeg.
Dit sal Cotter, ’n Nieu-Seelander, se eerste wedstryd as afrigter van Fidji wees sedert hy aan die begin van die jaar aangestel is.
Hy was tussen 2014 en 2017 Skotland se hoofafrigter. – Reuters