Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Fiksheids-kenner: ‘Bokke sal nie uitbrand’

Rassie Erasmus se Springbokke duik teenstanders dat die spoeg spat en tande klap, maar kan hulle dit vir die duur van die Wêreldbeker (WB)-toernooi volhou?

Die Springbok-skrumskakel Faf de Klerk vandeesweek op die oefenveld in Kagosjima, Japan. Elke Bok se kondisionering word met die hulp van “tyd-beweging-analise” gedoen. Foto: Gallo Images

Jacques Nienaber, Erasmus se regterhand en die verdedigingsafrigter, het ’n nuwe verdedigingspatroon – wat op opskietverdediging wat van buite af invou, geskoei is – by die span tuisgebring.

Vrydag in die opwarmwedstryd teen Japan kon ’n mens boonop sien dat die span nie net struktureel goed verdedig nie, maar ook met aggressie en geesdrif lak. Willie le Roux het vroeër gesê die Bokke verdedig hul doellyn asof hulle hul huise met hul gesinne daarin verdedig.

Die Bokke het vanjaar gemiddeld bykans 50 duikslae per wedstryd meer as hul teenstanders uitgevoer. Teen die All Blacks het hulle 155 duikslae teenoor 91 uitgevoer, teen die Poemas op Loftus 199 teenoor 144 en teen Japan 164 teenoor 69.

Die Bokke kan aanval ook, maar doen graag so vanaf omgekeerde besit of vaste fasette. Verdediging is dus hul kos, maar in die warm, bedompige toestande van Japan kan so ’n benadering tot lakwerk ’n fisieke tol eis.

Tog glo professor Derick Coetzee, wat die Bokke se kondisioneringsafrigter was toe hulle die WB in 2007 gewen het, Erasmus sal presies weet hoe om sy spelers te bestuur sodat hulle nie uitbrand nie.

“Met die sogenaamde ‘tyd/beweging-analise’, wat die GPS-toestelle op die spelers se rûe doen, word die spesifieke vereistes van die spel gedokumenteer,” sê Coetzee.

“Alles word gedokumenteer – die aantal duikslae wat ’n speler uitvoer, hoe ver hy nael, hoe ver hy loop, selfs die swaartekrag en impak van ’n duikslag.”

Coetzee sê al hierdie data help Erasmus dan om sy troepe goed te kan voorberei.

Derick Coetzee (regs) saam met Os du Randt ná die Wêreldbeker-eindstryd in 2007. Coetzee was die Bokke se kondisioneringsafrigter. Foto: Gallo Images

“Rassie weet presies wat hy nodig het van sy spelers wat kondisionering betref, om sy spesifieke wedstrydplan te kan uitoefen.

“Die spesifieke aanpassings ten opsigte van die behoeftes van die spel, word dan ingeoefen. Dit word gedoen deur wedstrydsituasies op die oefenveld te simuleer.

“Rassie is baie goed daarmee, want hy is ’n skitterende analis. Spesifieke kondisionering kan gebruik word om elke speler te help na aanleiding van die aantal duikslae wat hy in ’n wedstryd uitgevoer het, of die aantal meter wat hy gehardloop het.”

Erasmus het reeds laat blyk hy gaan van sy voorkeurspelers blaaskans gee vir die kragmeting met Namibië, ná die openingswedstryd teen die All Blacks. Dan sal die “A”-span weer teen Italië speel, waarna die voorkeurspelers gerus sal word vir die laaste groepwedstryd teen Kanada.

Daarna sal die beste span weekliks speel soos die Bokke deur die uitklopfase vorder.

Dit word alles gedoen om die spelers so vars as moontlik te hou. Die kondisioneringsafrigter, Aled Walters, geniet ongelooflik agting van die spelers. Hy gee vir hulle die selfvertroue om met groot duikslae in te vlieg.

Rassie het absoluut niks aan die toeval oorgelaat nie.

Die warm toestande in Japan behoort die Bokke ook nie te pootjie nie. Hulle het voor enige ander span in Japan opgedaag en kon dus reeds akklimatiseer.

Coetzee sê die opwarmwedstryd teen Japan in Japan was in daardie opsig ’n meesterskuif deur Erasmus.

“Dit was briljant. Jy kan eenvoudig nie vir ’n beter simulasie van die WB-toestande vra nie. Ander spanne het nog in die Noordelike Halfrond gespeel.

“Rassie het absoluut niks aan die toeval oorgelaat nie.”

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Wêreldbekerrugby  |  Derick Coetzee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.