Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Fleck oorleef ná WP-direksie oor sy pos vergader

Robbie Fleck bly glo vir eers die afrigter van die Stormers.

Die WP Rugbyunie se direksie het Dinsdagaand ’n vergadering gehou om die Stormers se vertonings in die Superrugby-reeks te bespreek. Hulle het vroeër ’n ultimatum aan Fleck gestel dat die Stormers hul wedstryde – teen die Bulle op Nuweland en Jaguares in Buenos Aires – móét wen vir hom om in sy pos te bly.

Robbie Fleck sal vir eers die leisels van die Stormers behou. Foto: Gallo Images

Die Stormers het die Bulle geklop en teen die Jaguares verloor, maar bevind hulle desondanks – met vyf wedstryde oor – steeds in die agtste plek op die algehele puntelys. Die agt voorste spanne kwalifiseer vir die kwarteindronde.

Vier van die Stormers se oorblywende vyf wedstryde gaan op Nuweland gespeel word en die Stormers vaar tradisioneel goed op hul tuisveld.

Nietemin lê daar baie duwweltjies op hul pad vorentoe gestrooi. Fleck-hulle se volgende wedstryd is op 18 Mei teen die kampioenspan, die Crusaders. Die Stormers kon hulle laas in 2010 klop. Daarna volg nóg ’n wedstryd teen ’n taai Nieu-Seelandse span, die Highlanders, voordat die Stormers Johannesburg toe moet reis vir ’n wedstryd teen die Leeus, wat die afgelope drie seisoene ’n finalis was.

Die Stormers sluit hul veldtog af met wedstryde teen die Sunwolves en Haaie op Nuweland voordat die uitspeelrondes aanbreek.

In die Suid-Afrikaanse groep is daar tans min tussen die spanne te kies. Selfs al lê die Stormers dáár vierde, is hulle slegs vier ligapunte agter die voorlopers – die Bulle en die Haaie.

Die span wat die Suid-Afrikaanse groep wen, sal minstens derde geloot wees en tuisveldvoordeel in die kwarteindronde hê.

Gegewe dié permutasies, was die direksie eenvoudig nie in ’n posisie om Fleck op grond van waar die span hom bevind die trekpas te gee nie.

Die Stormers lyk egter nie soos ’n span wat dit in hom het om die reeks te wen nie. Sy 22 drieë in 11 wedstryde is die minste deur enige span in die reeks.

Met Fleck steeds aan die stuur, behoort Paul Feeney, wat die Stormers se vaardighede slyp, ook vir eers in sy pos aan te bly.

Paul Zacks, uitvoerende hoof van die WP, het ook die steun van ’n handvol direksielede, wat sy pos vir eers nog veilig maak.

* Die WP het nie amptelik bekend gemaak dat sy direksie sou vergader nie. Die unie is wel om kommentaar genader en dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Robbie Fleck  |  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.