Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Fleck se soet en suur in 20 jaar by WP

Ná vier jaar as afrigter van die Stormers, is Robbie Fleck se lewe weer syne. Stephen Nell het in ’n omvattende onderhoud met hom oor sy herinneringe as afrigter en speler gesels.

Robbie Fleck het ná ’n goeie begin tot sy loopbaan as afrigter van die Stormers moeilike seisoene in 2018 en 2019 beleef. Foto: Gallo Images

Jy het as speler en afrigter meer as 20 jaar se diens aan die Westelike Provinsie en Stormers gelewer. Was dit vir jou baie emosioneel om weg te stap?

“Ja en nee. Ek het reeds in November verlede jaar die uitvoerende hoof in kennis gestel dat ek nie weer om die Stormers-pos gaan aansoek doen nie. Toe dinge in Oktober tot ’n einde kom, het ek reeds daarmee vrede gemaak.

“Dit was egter terselfdertyd emosioneel omdat ek besef het dat ek nie meer ’n deel van die familie en span was nie. Maar dis die perfekte tyd vir my om aan te beweeg en vir die volgende generasie afrigters om oor te neem.

“Daar was by die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se prysuitdeling emosie, want ek was baie dankbaar vir die toespraak van Danny Jones (die WP Rugbyunie se hoofbestuurder) waarin hy gesê het dat ek altyd “ons Robbie Fleck” en ’n “seun van die WP” sal wees. Vir my was dít genoeg. Dit het gevoel asof daar waardering vir al die bloed, sweet en trane was.

“Daar is ’n paar goeie rugbymense oor in die WP en Danny tel beslis onder hulle.”

Jy het afgemat geklink op die dag van jou aanstelling as waarnemende afrigter en jou loopbaan het ook op ’n hartseer noot geëindig met die Haaie wat die Stormers in die doodsnikke op Nuweland geklop het. Wat is jou perspektief op die begin en einde van jou Stormers-afrigterspos?

“Ek was baie ten gunste van ’n senior afrigter soos Eddie Jones of John Mitchell vir die Stormers. Ons het in die voorafgaande jare vir Rassie Erasmus, Jacques Nienaber, Allister Coetzee en Matt Proudfoot as afrigters verloor, wat yslike tegniese en taktiese terugslae was.

“Dis baie moeilik om daardie soort ervaring te vervang, veral as jy dink hoe jonk ek nog as ’n afrigter was. Gaaf, daar’s niks fout daarmee om ’n jong afrigter te wees nie, maar ervaring speel ’n groot rol.

“As ’n jong afrigter energiek en kreatief is, moet jy minstens ervare mense om hom plaas. Daarom die aanstelling van Paul Feeney (’n vaardigheidsafrigter van Nieu-Seeland). Gert Smal was ook daar as direkteur van rugby.

“Ek, Paul Treu en Russell Winter was egter baie jonk en onervare afrigters. Paul (Treu) was ’n ervare sewesrugbyafrigter, maar dis ’n ander spel. My en Russell se ervaring as hoofafrigters was op o.21-vlak. Ek dink ons sou almal daarby gebaat het as Eddie of John die hoofafrigter geword het.

Ek dink egter steeds – vanuit ’n selfsugtige perspektief – dat ek, die span en die hele unie sou gebaat het by Eddie of Mitch.

“Het ek twee jaar onder een van hulle deurgebring, sou ek ’n beter afrigter geword het – tegnies en in terme van hoe om die span te bestuur. Daardie kennis sou deurgesyfer het na die res van die spanne en goeie strukture sou in plek gewees het.

“Natuurlik is ek dankbaar oor my aanstelling en ek het iets verfrissend en nuut gebring. Dit het gewys in ons eerste twee seisoene.

“Ek dink egter steeds – vanuit ’n selfsugtige perspektief – dat ek, die span en die hele unie sou gebaat het by Eddie of Mitch.

“Eddie of John sou die politiek en dinge agter die skerms op hul manier hanteer het en self die besluit geneem het of hulle sou ry of bly. Die kans (om die span af te rig) het egter my kant toe gekom en ek sou dit nooit van die hand wys nie.

“Die einde was hartverskeurend. Ek het gedink hierdie kon ons jaar wees, maar teen die einde het ons weens beserings basies met ons C-span gespeel. Daar was ook ’n Wêreldbeker-toernooi op die horison en ek dink dit was in die spelers se agterkop.

“Ons het die wedstryd teen die Haaie oorheers en dit het gelyk asof ons ’n baie sterker span, op papier, sou klop. Hul wendrie was hartverskeurend vir ons bestuurspan. Ons het geweet dit was die einde van ons loopbane by die Stormers en WP, maar ook dat dit ’n seisoen was van ‘wat kon gewees het’.

“Ek wou nie dinge só afsluit nie, maar is nie spyt dat ek as afrigter aangestel is nie.”

Robbie Fleck was ’n skitterende senter vir die Stormers in sy loopbaan as speler. Foto: Getty Images

Waarom het dinge ná die eerste twee jaar agteruit gegaan?

“Daar was vars idees en nuwe energie in die eerste twee jaar en dit werk in enige span se opset. Ons het baie goed gevaar in die eerste jaar, maar moes in die groepfase teen die Australiese spanne speel.

“Ek was egter altyd bekommerd dat ons nie voor die uitspeelrondes teen Nieu-Seelandse spanne sou speel nie. Die kwarteindronde teen die Chiefs was soos ’n orkaan wat ons getref het. Ons was ver agter in ons tempo, kondisionering en vaardighede.

“Die span het baie hard gewerk in die tweede jaar en ons was ’n baie beter span. Ons was baie ongelukkig in die kwarteindstryd teen die Chiefs en moes gewen het. Daar was ’n strafskop wat verbrou is en ’n flater op die verdediging wat die Chiefs toegelaat het om teen die einde te druk.

“Ons het die Chiefs vroeër daardie jaar op Nuweland geklop.

“Ons het vir die tweede jaar baie op ons kondisionering en vaardighede gefokus en voor die derde jaar was ons as ’n afrigtingspan van mening dat die span meer fisiek moet wees. Ons het ons aanvallende vaardighede afgeskeep deur ’n oordrewe klem op kontakvaardighede te plaas.

Dit was die teenoorgestelde van Suid-Afrika se Wêreldbeker-veldtog vanjaar waar die speelstyl kristalhelder was en die spelers dit perfek uitgevoer het.

“Met nabetragting was dit die verkeerde ding om te doen, want Suid-Afrikaners is natuurlik goed daarmee. Ons moes eerder aangehou het om aan ons drukaangeë en fyner kunsies te werk. Ons het ook beserings opgedoen en dit was ’n swak jaar.

“As ’n afrigter is dit goed om te luister en inligting aan boord te neem. Daar was sterk persoonlikhede met sterk opinies op ons bestuurspan, en daar was waardering vir almal se insette.

“Dis egter my werk as ’n hoofafrigter om die laaste sê te hê en nie te veel stemme toe te laat nie. Ons het dinge onnodig gekompliseer. Ek moes gesê het ‘dis wat ek wil hê en julle ouens moet dit uitvoer’. Ek het egter elke ander afrigter gevra en ons het die spelers deurmekaar gemaak.

“Dit was die teenoorgestelde van Suid-Afrika se Wêreldbeker-veldtog vanjaar waar die speelstyl kristalhelder was en die spelers dit perfek uitgevoer het.

“In jaar vier het ons als vereenvoudig wat goed was, maar ons het ’n splinternuwe bestuurspan gehad. Paul Treu was weg, Gert het ons as direkteur van rugby verlaat, en daar was nuwe aanstellings in Dawie Snyman en Norman Laker. Steph du Toit het ons ook as fiksheid en kondisioneringsafrigter verlaat.

“Ons was onbestendig, beserings halfpad deur die veldtog het hul tol geëis en ons moes Springbokke laat rus. Elke ander span moes dit doen, maar ek was die een wat by daardie plan gehou het en hulle nie.

“Dit was moeilik om te bestuur, maar teen die einde was ons uitgedun. Daar was tye wat ons uitstekend was en natuurlik ook wedstryde waar ons nie goed genoeg was nie. As ’n hoofafrigter is ek verantwoordelik daarvoor.”

Daar word soms gesê dat daar ‘ego’s’ onder die Stormers se spelers is. Het jy dit só ervaar? Het Siya Kolisi jou gehelp om dit te oorbrug?

Siya is die mees nederige mens wat jy kry. Dis waarom hy die perfekte leier vir hierdie span en die Springbokke is.

Om almal te kry om saam te werk, het ons ’n speler soos Siya nodig gehad.

Ja, daar’s ego’s en waarom nie? Ons praat van spelers van wêreldgehalte. Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth en Damian de Allende sou nie sonder ’n ego suksesvol gewees het nie. Ek bedoel dit nie op ’n slegte manier nie. Om ’n ego te hê, is ’n goeie ding, mits jy dit reg bestuur en tot jou voordeel gebruik.

Siya se leierskap is nederig en opreg. Hy breek deur ego’s en vind met almal aanklank op ’n ander manier. Hy het ook ’n ego en dit moet so wees, maar is ’n nederige en opregte mens.

“Om almal te kry om saam te werk, het ons ’n speler soos Siya nodig gehad. So ja, jy moet ego’s bestuur, maar almal was op ’n manier goed en positief.

“Jy het spelers wat meningsverskille het en dinge op hul manier wil doen, maar as ’n afrigter is dit jou werk om hulle te laat voel dat hulle ’n positiewe bydrae lewer eerder as om daardie energie te probeer onderdruk.”

Robbie Fleck het hoogtepunte as ’n hulpafrigter onder Allister Coetzee (middel) en Matt Proudfoot bereik. Foto: Gallo Images

Was daar baie druk van bo op jou?

“Ek was vir 20 jaar as ’n speler en afrigter by die WP, so as enigiemand die druk van die professionele en amateur-kant af sal verstaan, is dit ek. Dit sou uiters moeilik gewees het vir iemand van oorsee of buite ons provinsiale grense.

“Of dit van jou base, die media of publiek se kant af is, sal die druk om die Stormers af te rig nooit wyk nie. As jy dit nie wil hê nie, moet jy nie in Kaapstad kom afrig nie. Gaan rig dan eerder die Haaie of Leeus af, waar daar baie minder fokus van die media en publiek op jou is. Kom Kaap toe as jy wil leer hoe om ’n taai afrigter te word!”

Watter wedstryde staan uit as hoogtepunte in jou tyd by die Stormers?

“Uit ’n persoonlike perspektief is daar die kwarteindronde teen die Chiefs waar ons 60 punte teen ons gekry het. Dit was die grootste wekroep wat ek as ’n afrigter kon kry.

“Tot op daardie punt het ons ’n goeie veldtog gehad en dis ongelooflik hoe jou ego kan oorneem. Jy dink nog jy weet alles en dan kry jy ’n groot les by ’n afrigter en spelers van wêreldgehalte.

Die sege oor die Bulle op Nuweland vanjaar was ’n groot hoogtepunt, veral gegewe hoe sleg ons op Loftus verloor het

“Dit was die beste ding wat met my kon gebeur het, want ek was daarna ’n baie beter afrigter. Ek sien dit daarom as iets positief.

“Ons ligawedstryd teen die Chiefs in die tweede jaar was waarskynlik ons beste vertoning in my tyd.

“Die sege oor die Bulle op Nuweland vanjaar was ’n groot hoogtepunt, veral gegewe hoe sleg ons op Loftus verloor het. Ons het oorheers en dis hoe ek graag wou hê ons moes speel.

“Ons het in vroeër jare die Bulle gereeld op Nuweland geklop, maar vanjaar se Bulle-span was sterker.

Vanjaar se wedstryd teen die Crusaders was ook baie goed. Ons het gelykop gespeel teen die kampioenspan en kon teen die einde gewen het as daar nie ’n aanslaan was nie.”

Wat was jou hoogtepunte as ’n speler?

“Daar was baie. Ek het saam met legendes soos Tinus Linee en Jean de Villiers gespeel. Daar was die era van 1999 saam met ouens soos Pieter Rossouw, Percy Montgomery, Bob Skinstad en Corné Krige, wat huishoudelike name van Suid-Afrikaanse rugby geword het. “In die vroeër jare kon ek saam met Andrew Aitken en Dick Muir speel, wat vir my as ’n jong speler spesiale tye was. Daar was ook Tommy Laubscher en Toks van der Linde. Dit was baie spesiaal. En ons was suksesvol.

“Ek’s bly dat ek my loopbaan kon afsluit toe Jean en Schalk Burger op die toneel gekom het. Ek kon baie van myself in hulle sien. Daar was ’n glinster in hul oë. Hulle was stout, maar lief vir die spel en passievol.”

Hoeveel waarheid het gesteek in die beweerde dreigement van ’n staking voor die halfeindstryd teen die Highlanders in 1999?

“Ek onthou nog ons het op die Vrydagaand gaan fliek en toe lees ek die volgende oggend in die Argus dat ons staak. Dit was vir my nuus.

Nuweland sal gemis maar nooit vergeet word nie.

“Daar was nooit sprake dat die span nie op die veld sou draf nie, maar die spanning tussen die spelers en bestuur oor wedstrydgeld was tot op die oggend van die wedstryd nog ’n kwessie.

“Dit het nie ’n negatiewe invloed op ons vertoning gehad nie. Die Highlanders was daardie dag eenvoudig beter as ons.

“Die les daaruit was dat daardie soort ding lank vooruit uitgepluis moet word.”

Hoe voel jy oor die skuif van Nuweland na die Kaapstad-stadion?

“Dit moes gebeur. Ek het op Nuweland grootgeword, maar dis die regte tyd om te skuif. Nuweland is duur om te onderhou vir die WP se sakevleuel en unie en ek’s seker dit sal tot die WP se voordeel aangewend word. Die Kaapstad-stadion is ongelooflik. Nuweland sal gemis maar nooit vergeet word nie.”


Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Robbie Fleck  |  Wpru  |  Stormers  |  Wp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.