Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Fleck volg Kiwi-resep met 2 leiers

Kaapstad. – Die Stormers se afrigter, Robbie Fleck, het die Highlanders se wenresep van verlede jaar in gedagte gehad toe hy op Juan de Jongh en Frans Malherbe as medekapteins vir vanjaar se Superrugby-reeks besluit het.

Ben Smith en Nasi Manu het verlede jaar soortgelyke rolle vervul vir die Highlanders, wat die reeks teen die verwagting in gewen het.

“Die belangrike ding is dat daar nie ego’s betrokke is nie. ’n Groot bestanddeel van Jamie Joseph (Highlanders se afrigter) se welslae is dat hy oor mense sáám praat, nie oor individue nie,” het Fleck gister gesê.

“Die Brumbies doen vanjaar dieselfde ding met Stephen Moore en Christian Leali’ifano.”

Frans Malherbe, Robbie Fleck en Juan de Jongh gister op ’n perskonferensie in Bellville, waar aangekondig is die Stormers pak vanjaar se Superreeks met twee kapteins aan. Foto: Ashley Vlotman, Gallo Images
Fleck het bygevoeg dat die aanstelling van Malherbe daarop gemik is om die Stormers se leierskern uit te bou.

“Ons wil Frans grootmaak vir die toekoms, maar ook spelers se werkladings bestuur. Juan en Frans is bowenal wonderlike mense en die verpersoonliking van waarvoor hierdie span staan,” het hy gesê.

“Ek het navorsing gedoen: mede-leierskap help ’n jong groep.”

Nóg ’n faktor in Fleck se besluit was dat De Jongh moontlik vir die Suid-Afrikaanse sewesspan vir vanjaar se Olimpiese Spele gekies kan word. Hy sal dan moontlik nie beskikbaar wees vir die uitspeelrondes van die Super-reeks nie.

Schalk Burger, wat ná die Super-reeks vir Saracens in Engeland gaan speel, sal ook ’n leiersrol vervul.

“Ons sal Schalk se ervaring tot ons voordeel aanwend. Dis sy laaste seisoen en ons wil die druk op hom verlig sodat hy die spel kan geniet,” het Fleck gesê.

De Jongh sal die Stormers op die veld lei as hy en Malherbe saam speel, en ook die laaste sê in besluite hê.

“Juan, Frans en Schalk sal saam oor kwessies besin. Sou dit egter daarop neerkom dat iemand die laaste sê móét hê, sal dit Juan wees.”

* Die Stormers het gister bevestig dat Rynhardt Elstadt weens ’n liesbesering tot ses weke langs die kantlyn kan wees.

Elstadt het dié besering Saterdag in die oefenwedstryd teen die Jaguares opgedoen.


Meer oor:  Juan De Jongh  |  Robbie Fleck  |  Frans Malherbe  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.