Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
By die 19de
Flyt-Flyt is Nuweland se skuldstorie uit
La Santa Croce Azzurri gee gas teen Santo Spirito Bianchi. Foto: Getty Images

’n Onverwagse, maar yslike vreugde verlede week was Home Game, ’n splinternuwe dokumentêre sportreeks op Netflix.

Dit fokus op ongewone sportsoorte, onbekend vir die grootste gedeelte van die wêreld, maar ’n amperse godsdiens in sekere plekke.

Daar is episodes oor onder meer Kongolese voedoe-stoeiers, Balinese waterbuffelwedrenne, ’n skaatsroller-derby in Texas en kok boru in Kirgistan, ’n kruis tussen polo en rugby met ’n bokkarkas as “bal”.

Maar dis die eerste aflewering in die reeks wat my nou al heelweek glimlaggend laat kopskud.

Want calcio storico is soort van Rugby Allamagtig, gestroop van amper alles anders as vuishoue en lopies. Niks wat deesdae omtrent die een irriteer, pla in die ander ene nie.

Ooraanbod betekenislose wedstryde? Daar is net drie wedstryde calcio per jaar – twee halfeindstryde en ’n eindstryd nege dae later.

Te veel onverstaanbare reëls? Calcio het 27 spelers aan ’n kant, waarvan 15 voorspelers is. Dié slaan, skop, pootjie en duik mekaar totdat genoeg van hulle buite aksie is dat die agterspelers vir ’n doel kan deurhardloop.

Gatvol gewonder waar die Rebels vandaan kom en waarom die Blues rooi truie dra? In Florence, calcio se tuiste, word jy Wit, Rooi, Groen of Blou gebore en bly jy dit lewenslank.

Die storie loop dat die sport sy oorsprong daarin het dat die Florentyne, onder beleg in die 16de eeu, die sport uitgedink en gespeel het om hul vyande mooi te laat verstaan watter wilde manne binne die stadsmure woon.

’n Besoekende Franse koning het dit later een kyk gegee en verklaar: “Te klein vir oorlog, te wreed vir sport.”

  • Die eindstryd is jaarliks op St. Johannes-dag, 24 Junie. Een van hierdie mooi jare is die uwe daar!

*****

Dit sal ’n mens se gedagtes darem ook besig hou verby al die moleste van rugby, die moderner, beskaafder weergawe van calcio waarin ek as WP-ondersteuner gebore is.

Dit opsigself begin ’n oudstryder tap – ek is die onsentimenteelste mens op aarde; in my woordeboek staan “nostalgie” netjies tussen “nooit” en “nottenwiel”.

Die langdurige sage rondom Nuweland gee teen dié tyd enige regdenkende rugbykop effense heimwee.

Die WP skuld nie meer geld aan Remgro of Investec nie, maar skuld nou R112 miljoen aan Flyt Property Investments. Of hoe het ek dit?

Die vennootskap met Flyt hou glo veel minder risiko in. Altans, so sê die besturende direkteur van Flyt. Ons leke hou duimvas vir die beste, maar bloedweinig van ons het ’n maand gelede die vaagste benul gehad dat Flyt eens bestaan.

  • Nou ja, hulle sê altyd Apple het in ’n motorhuis ontstaan. Miskien moet ek maar Nuweland – en die WP – se toekoms met verwagtinglose blymoedigheid tegemoetgaan. Ons het in elk geval deesdae klaar genoeg op ons skinkbord; sport is veronderstel om ons aandag daarvan af te lei en nie om ons lewensvreugde verder te befoeter nie.

*****

Die sokkerseisoen het in die grootste gedeelte van Europa weer afgeskop. Dit woed teen ’n vreemde, steriele agtergrond uit, nes amper alles wat ons op die oomblik doen.

Vir sommiges was dit natuurlik ’n vreugdevolle geleentheid. My lank lydende Liverpool-ondersteunende vriende, wat 30 jaar moes wag om weer ’n slag koning van Engeland te wees, kan skaars ’n sin voltooi sonder om die woord “kampioen” daarin te glip.

Dié gun ek vir hulle. Liverpool speel die lekkerste voetbal in Europa en doen dit boonop sonder om enigiemand anders as Manchester United en Everton te irriteer.

Vir ons Barcelona-ondersteuners was die hervatting pynliker: ’n Soveelste herinnering dat die klub die beste jare van dalk die beste sokkerspeler ooit deur hul alie getrek het met skelmstreke en politiekery.

Om dit enigsins hartseerder te maak, het die afdraand steiler geword toe die einste Lionel Messi die onbetwiste leier in die groep geword het.

  • Dis maar goor wanneer die beste vooruitsig vir jou klub die volgende raadsverkiesing is, om die minste te sê.

*****

My gebruiklike tirade oor die gehalte-klubs wat aan maatskappye behoort versus klubs wat aan hul lede behoort en hul bestuur kies, val taamlik plat as ’n man tans die demokratiese Barcelona met die Fenway Sports Group se Liverpool vergelyk.

Net so is die WP ’n demokrasie en allermins ’n yslike suksesverhaal.

Vergeleke met die Southern Kings se eienaar tot onlangs, The Greatest Rugby Company In The Whole Wide World, lyk die WP natuurlik weer knap, uitgeslape en selfs relatief solvent.

Sakemanne kan ’n klub ewe maklik deur hul agterente trek as om dit vorentoe te neem.

  • Dis seker nie altyd moontlik om te kan voorspel watter ene van die twee die waarskynlikste is nie, maar as jy gaan sit en sake doen met mense wat kinderagtig genoeg is om hulself The Greatest Rugby Company In The Whole Wide World te wil noem, is dit ook nie te moeilik om te raai nie.
Meer oor:  Louis De Villiers  |  Nuweland  |  By Die 19De
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.