Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Flyt slyp sy messe vir WP Rugbyunie

Die lewe kan warm raak vir die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) en sy leierskorps as daar besluit word om nie die eiendomstransaksies by Brookside en Nuweland, soos kontraktueel met Flyt Property Investment ooreengekom, deur te voer nie.

Zane de Decker, besturende direkteur van Flyt Property Investment. Foto: Argief

“As die WPRU hom aan die ooreenkoms onttrek, sal hy aanspreeklik wees vir al die skade wat uit die kontrakbreuk voortspruit,” het Zane de Decker, besturende direkteur van Flyt, in ’n e-pos aan Netwerk24 gesê.

Gerugte dat die huwelik tussen Flyt en die WPRU op die rotse kan wees, het reeds in Oktober die ronde begin doen. Zelt Marais, die WPRU se president, het toe by navraag aan Netwerk24 gesê dat Flyt voorwaardes moet nakom wat deur die uitvoerende komitee en aandeelhouer (die klubs as ’n kollektief) gestel is. Hy het bygevoeg dat dit “baie onwaarskynlik” is dat dit nie sal gebeur nie.

Maar minder as twee maande later stuur dinge op ’n morsige egskeiding tussen die WPRU en Flyt af. Dis merkwaardig gegewe dat Marais vas geglo het dat die WP ’n goeie transaksie beding het deur ’n aandeelhouding van 50% in beoogde ontwikkelings by Nuweland en Brookside in sy transaksies met Flyt te onderhandel.

Daarmee saam het Dream World Investments 401, ’n filiaal van Flyt, R112 miljoen aan die WPRU voorgeskiet om sy skuld by Remgro en Investec te kan vereffen.

Die WPRU moes egter al sy eiendomme as sekuriteit bied en dis aansienlik meer as R112 miljoen werd.

Rapport het die afgelope naweek berig dat die WPRU in ’n prokureursbrief aan Flyt aanvoer dat die waardasie eerder tussen R377 miljoen en R390 miljoen behoort te wees.

Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie. Foto: Gallo Images

Marais het Donderdag in ’n skrywe aan Netwerk24 gesê dat daar nog op kommunikasie van Flyt en Dream World se prokureurs gewag word en dat die kwessie moontlik op litigasie kan uitloop. Hy wou daarom nie spesifieke vrae daaroor beantwoord nie.

Die vrae het ingesluit waarom die WPRU kop wil uittrek, waar dit die afbetaling van die WP se skuld aan Dream World laat, of hy bekommerd is oor die potensiële finansiële nagevolge en of daar dalk ’n beter opsie as Flyt op die tafel is.

Nehawu Investment Holdings, die beleggingsvleuel van die vakbond Nehawu, het op die vooraand van die finale goedkeuring van die Flyt-transaksie ’n sterk aanbod gemaak, maar dit het toe geen gehoor gevind nie.

De Decker het aan Netwerk24 benadruk dat Flyt die ooreenkoms met die WPRU as bindend beskou.

“Sover dit ons aangaan, is daar ’n bindende ooreenkoms tussen Flyt en die WPRU en ons verwag dat alle partye daarby sal hou,” sê hy.

“Flyt Property Investment het tot op hede al die voorwaardes van sy kant af nagekom: Die lening van R112 miljoen, die inlywing van die Nuweland- en Brookside-ontwikkelingsmaatskappye en die aanstel van direksies vir albei maatskappye, wat al vergaderings begin hou het. Ons verwag daarom van die WPRU om van sy kant af ook die voorwaardes in die ooreenkoms na te kom.”

Marais word saam met De Decker, Donovan van der Vyver, Nazeem Khan en Sebastian van Greunen as ’n direkteur van Brookside Development Company aangegee op die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom se webtuiste. Die maatskappy is op 4 September geregistreer.

De Decker sê dat Flyt se regspan tans ’n brief van die WPRU bestudeer om op sy volgende stappe te besluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.