Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Flyt sê WP se risiko klein met hom as maat

’n Ridder op ’n wit perd of ’n Trojaanse perd?

Dit is die vraag op die lippe van die meeste Kaapse rugby-ondersteuners nadat Flyt Property Investment en die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) saam eiendomsontwikkelings by Nuweland en Brookside gaan aanpak.

Zane de Decker, besturende direkteur van Flyt Property Investment. Foto: Argief

Dream World Investments 401, ’n maatskappy binne die Flyt-groep, staan reg om R112 miljoen aan die WPRU te leen sodat die Kaapse unie sy skuld aan Remgro en Investec kan afbetaal.

Daarvoor moet die WPRU verbande teen al sy eiendomme registreer om R250 miljoen se sekuriteit te verskaf.

Die termyn vir die lening met Dream World is vier jaar en die vraag is waar dit die WPRU sal laat as Flyt nie binne daardie tydperk bouplanne goedgekeur kan kry nie.

Maar, sê Zane de Decker, besturende direkteur van Flyt Property, die risiko vir die WPRU is nie groot nie.

“Die vennootskap met Flyt verteenwoordig baie minder risiko en potensieel meer finansiële voordele vir die WPRU oor die kort-, medium- én langtermyn,” sê De Decker aan Netwerk24.

“Die WPRU het ’n skuldlas van R110 miljoen wat moeilik gediens kon word. Trouens, dis welbekend dat Remgro ’n hofbevel gehad het dat hulle op Nuweland beslag kon lê as die unie nie teen 30 Junie sy skuld terugbetaal nie.

“Daardie risiko is nou uitgewis deur die voorgestelde lening en herontwikkelingsooreenkoms met die Flyt-groep.”

Die WPRU het ’n skuldlas van R110 miljoen wat moeilik gediens kon word.
Zane de Decker

De Decker sê die WPRU word deur sy vennootskap met Flyt nou in staat gestel om sy eiendomsportefeulje in te span om op die lange duur finansiële stabiliteit te skep.

“Die WPRU gaan ’n aandeel van 50% in al die ekonomiese voordele van die Nuweland-ontwikkeling kry. Dit maak ook voorsiening vir ’n jaarlikse onafhanklike waardering van al die relevante eiendomme, wat beteken dat van hulle vrygestel kan word van sekuriteit.”

Hy wys ook daarop dat die WPRU met die planne by Brookside toegang tot R40 miljoen sal hê en in 50% van die wins van die ontwikkeling sal deel.

Hoewel Flyt nie ’n bekende naam in die eiendomsontwikkelingsbedryf is nie, hoef hy volgens De Decker nie by banke om kapitaal aan te klop nie.

“Ons het ’n uiters gunstige balansstaat en is nie afhanklik van banke se finansiering nie. Die eerste R112 miljoen is reeds in die prokureurs se trustrekening, en al die beplannings- en ander onkostes sal voordat konstruksie begin, ook deur aandeelhouers se kapitaal gefinansier word,” sê De Decker.

Ons het ’n uiters gunstige balansstaat en is nie afhanklik van banke se finansiering nie.
Zane de Decker

Flyt bekommer hom nie oor die moontlike impak van regstappe deur Investec, wat reeds die hoofpunte van ’n ooreenkoms met die WPRU onderteken het vir ’n huurooreenkoms van 99 jaar vir Nuweland nie. Daarvolgens sou die WPRU R110 miljoen ontvang en ook ’n toekomstige inkomstestroom uit ’n eiendomsontwikkeling van die perseel kry.

“Ons het as deel van ons noulettendheidsondersoek ’n regsmening gekry oor die status van die Investec-transaksie. Ons is tevrede dat die ooreenkoms inderdaad verval het en nie meer van krag was nie toe ons met die unie begin onderhandel het,” sê De Decker.

• Die voorgenome transaksies moet Dinsdag by ’n spesiale vergadering van die WPRU bekragtig word.

• De Decker, wat ’n nagraadse kwalifikasie in eiendomstudies aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het, het vroeër in sy loopbaan gewerk vir Old Mutual en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), waar hy sê hy “oorsig gehou het oor ’n portefeulje van groot projekte en aanskaffings, die V&A Waterfront ingesluit”.

Daarna het hy sy eerste maatskappy, Proventus Property, gestig. Proventus het in 2017 met ’n ander maatskappy saamgesmelt om Flyt Property Investment te vorm.

• Van Flyt se projekte sluit in: Eaton Square (www.eatonsquare.co.za).

Quivertree (www.quivertreeapartments.co.za).

Somerset Lakes (www.somersetlakes.co.za).

Fairhaven Estate (www.fairhavenestate.co.za).

Wink (www.winkaparthotel.co.za).

Meer oor:  Kaapstad  |  Nuweland  |  Rugby  |  Zelt Marais  |  Zane De Decker  |  Flyt Property Investment
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.