Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Flyt-transaksie sal nie WP-sakevleuel raak’
Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie. Foto: Gallo Images

Die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se besluit om ’n lening van R112 miljoen aan te gaan en moontlike uitgawes vir eiendomsontwikkelinge sal nie sy sakevleuel se werksaamhede negatief raak nie.

Zelt Marais, president van die WPRU, het aan Netwerk24 dié versekering gegee in geskrewe antwoorde op vrae wat aan hom gestuur is.

“Die transaksie raak nie die sakevleuel nie. Die sakevleuel is geskep om inkomste vir die WPRU te genereer en om sy ontwikkelings- en junior hoëprestasie-strukture te finansier,” sê Marais.

Johann Rupert, voorsitter van Remgro.

Die WPRU het vandeesweek by ’n spesiale vergadering twee transaksies bekragtig – ’n lening van R112 miljoen by Dream World Investments 401 en ’n ooreenkoms met Flyt Property Investment vir ontwikkelinge by Nuweland en Brookside in Claremont. Dream World is ’n maatskappy binne Flyt.

Skuld aan Remgro en Investec word met die R112 miljoen afbetaal, terwyl die WPRU en Flyt gelyke aandeelhouers in eiendomsontwikkelinge sal wees.

Die nuwe lening het egter vrae laat ontstaan oor ’n moontlike invloed op die sakevleuel, wat onder meer verantwoordelik is vir die kontraktering van spelers. Talle hoëprofiel-Springbokke is tans by die WP gekontrakteer.

Volgens Marais wil die WPRU die geld wat hy geleen het binne vier jaar terugbetaal – die tyd wat Flyt het om bouplanne goedgekeur te kry vir die ontwikkeling by Nuweland. Sou Flyt nie daarin slaag nie, sal die WP by magte wees om hom aan die Nuweland-ooreenkoms te onttrek.

“Die plan is vir die aanvanklike skuld om terugbetaal te word deur inkomste uit die herontwikkeling van Brookside, en by die Mill House en Dulwich-eiendomme. Dít sal die WPRU in staat stel om permanente inkomstestrome te kry,” sê Marais.

Hy voorsien nie dat die WPRU se balansstaat negatief geraak sal word deur die ontwikkelinge nie.

“Daar behoort nie verliese op die ontwikkeling te wees nie, want konstruksie sal nie begin tensy die residensiële eenhede verkoop, en of daar vooruit langtermyn-huurkontrakte aangegaan word nie,” sê hy.

Konstruksie sal nie begin tensy die residensiële eenhede verkoop, en of daar vooruit langtermyn-huurkontrakte aangegaan word nie.
Zelt Marais

Wat kontantvloei van inkomste uit ontwikkelinge betref, sê Marais die eerste prioriteit sal wees om die WPRU te betaal vir die verlies van die geld wat die sakevleuel aan hom moes betaal vir die huur van die Nuweland-stadion.

“Daarna sal enige lenings afbetaal word en ná dit sal dit aangewend word vir ontwikkeling by klubs en skole,” sê hy.

Oor hoe sake verloop aangaande die WPRU se skuif Kaapstad-stadion toe, het hy nie vrae beantwoord of meer losies al gebou is en of enige daarvan al verkoop is nie. Daar is tradisioneel ’n stewige inkomstevloei uit losies by Nuweland, hoewel dit reeds voor die Covid-19-pandemie weens die swak ekonomie begin taan het.

’n Lugfoto van die Kaapstad-stadion.

“WP Rugby onderhandel steeds met die Kaapstad-stadion se munisipale entiteit om eerstens seker te maak dat daar ’n billike verdeling van die inkomste is en dat WP Rugby beter daaraan toe sal wees deur die skuif te maak,” sê Marais.

Ondanks die feit dat Investec omgekrap is oor die feit dat sy transaksie vir ’n langtermyn-huurooreenkoms van Nuweland deur die mat geval het, nadat die hoofpunte van ’n ooreenkoms reeds onderteken was, sê Marais dat die Kaapse unie in die “uiterste goeder trou” onderhandel het. Die WPRU het ook uit die staanspoor sy kommer oor etlike aspekte uitgespreek, voeg hy by.

• Intussen is die soektog vir ’n nuwe uitvoerende hoof, om vir Paul Zacks te vervang, weens probleme wat deur Covid-19 geskep is vir eers van die baan. ’n Tussentydse komitee bestuur steeds die unie.

Meer oor:  Zelt Marais  |  Kaapstad  |  Nuweland  |  Eiendomsontwikkeling  |  Flyt  |  Rugby  |  Remgro  |  Investec  |  Wpru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.