Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Folau gaan veg om kontrak te behou
Israel Folau het Vrydag met Rugby Australië vergader. Foto: Getty Images

Rugby Australië (RA) is steeds van plan om Israel Folau van sy kontrak vry te stel ná ’n vergadering met die Wallaby-heelagter Vrydag in Sydney.

Die Waratahs het hom ook onbepaald van hul groep vrygestel nadat Folau vroeër vandeesweek in ’n plasing op Instagram gesê het gay mense gaan hel toe as hulle nie tot inkeer kom nie.

RA het Donderdag aangekondig hy beplan om Folau se kontrak te beëindig en oor die volgende paar dae sal die beheerliggaam probeer vasstel of hy wetlike gronde het om dít wel te doen.

Vrydag het die rugbyspeler eindelik kontak gemaak met RA se uitvoerende hoof, Raelene Castle, nadat sy vir 24 uur sonder sukses probeer het om met hom in aanraking te kom.

Voor die vergadering by RA se hoofkwartier, het Folau en sy vrou, Maria, die Australiese Rugbyspelersvereniging (Rupa) se hoof, Prataal Raj, in ’n koffiewinkel ontmoet.

Die besonderhede oor Folau se vergadering met RA is onbekend.

Die vergadering tussen die speler en sy werkgewers was vertroulik, Rugby Australië en die Nieu-Suid-Walliese Rugbyunie sal nie oor die saak kommentaar lewer nie.
RA-verklaring

“Die vergadering tussen die speler en sy werkgewers was vertroulik, Rugby Australië en die Nieu-Suid-Walliese Rugbyunie sal nie oor die saak kommentaar lewer nie,” het RA en die Waratahs in ’n gesamentlike verklaring gesê.

“Ná vandag se vergadering sal die twee organisasies hul onderskeie rade op datum bring oor die saak en volgende stappe oorweeg. Ons gesamentlike posisie oor Israel Folau bly onveranderd.”

Die Australiese Spelersvereniging gaan Folau bystaan.

“Israel is steeds gekontrakteer deur RA en die Waratahs en hy is van plan om sy kontrak te eerbiedig,” sê die spelersvereniging in ’n verklaring.

“Rupa sal steeds ons ondersteuning aan Israel bied. Israel se siening is egter sy eie en nie dié van Rupa nie.”

Folau wou nie kommentaar lewer nie.

Dit is die tweede keer in bykans ’n jaar wat hy op sosiale media gesê het gay mense gaan hel toe.

Gareth Thomas
Gareth Thomas (Getty)

Sy uitlatings het baie kritiek ontlok. Die Nieu-Seelandse eerste minister, Jacinda Ardern, sowel as die voormalige Walliese rugbyspeler Gareth Thomas, het onder diegene getel wat Folau se uitlatings gekritiseer het.

Thomas is openlik gay.

Die eienaar van die Franse glansklub Toulon, Mourad Boudjellal, het enige bespiegelinge van onderhandelinge tussen dié klub en Folau in die kiem gesmoor en na die heelagter as ’n “moroon” verwys.

Een van sy voormalige spanmaats, die oudvleuel Drew Mitchell, sê die kontrak van vier jaar wat Folau onlangs met RA gesluit het, moet onmiddellik opgeskeur word. Dié kontrak is glo soveel as R22 miljoen per jaar werd.

“Ek dink hy moet afgedank word, so eenvoudig soos dit,” het Mitchell gesê.

“Hy sê hierdie dinge waarvoor ons as ’n sport nie staan nie. Hy verteenwoordig my nie.” – The Sydney Morning Herald, Sport24

Meer oor:  Israel Folau  |  Drew Mitchell  |  Australie  |  Kontrak  |  Instagram  |  Wereldbeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.