
Israel Folau speel deesdae rugbyliga vir die Catalans Dragons. Foto: Getty Images
Raelene Castle, Rugby Australia (RA) se uitvoerende hoof, verdedig die beheerliggaam se hantering van die Israel Folau-sage ná kommentaar van Christen Wallabies dat hulle aangeraai is om nie hul afgedankte spanmaat in die openbaar te ondersteun nie.
Die senter Samu Kerevi en stut Sekope Kepu het in November beëdigde verklarings afgelê ter ondersteuning van Folau se saak van onregmatige afdanking teen RA, wat in Desember buite die hof geskik is.
Kerevi sê nadat Folau, ’n stoere Christen, afgedank is weens sy uitlatings op sosiale media dat “dronklappe, gays, egbrekers, leuenaars, hoereerders, diewe, ateïste en afgodsdienaars” vir die hel bestem is, dat hy en ander spelers gewaarsku is om nie oor die kwessie kommentaar te lewer nie.
“Ek wou destyds vir Israel in die openbaar ondersteun, maar ek kon nie want ons is deur die spanbestuur gemaan om ons nie oor die saak uit te laat nie,” sê Kerevi.
Kepu sê hy het ’n Wallaby-oefenkamp in Julie geboikot want hy was “so ontsteld oor die wyse waarop die bestuur Israel se situasie hanteer het”.
“Ek het nie gedink dit sou goed wees vir my om teenwoordig te wees nie,” sê hy.

Sekope Kepu en Samu Kerevi. Foto: Getty Images
Volgens Kepu het bidgroepies tussen Christen-spelers opgehou ná Folau se afdanking.
“Daar is geen twyfel by my nie dat die Wallabies weens Israel se invloed op en van die veld verder sou vorder by die Wêreldbekertoernooi as hy in die span was,” sê Kepu oor die span se kwarteind-nederlaag in Japan.

Raelene Castle, Aussie-rugby se grootbaas. Foto: Getty Images
Castle sê RA was glad nie betrokke om bidgroepies te stop nie en al die spelers is die geleentheid gegun om hul sienings uit te laat.
“Ek is so beledig dat mense dink dat dit aanvaarbare gedrag vir Rugby Australië sou wees,” sê sy.
“Ek is op rekord waar ek sê ek is trots op die feit dat Israel ’n sterk Christen is, trots op sy geloof en die uitleef daarvan.
“Maar hy het ’n uitlating gemaak wat beledigend was.
“Ek voel ons het so wyd as moontlik geskakel oor ’n baie moeilike kwessie en (die spelers) die geleentheid gegee om in die privaat, asook die openbaar daaroor te praat.”
– Reuters