Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Folau-sage soos drama oor Kaepernick
Karmichael Hunt / Foto: Getty Images

Die bohaai oor Israel Folau se uitlatings op sosiale media veroorsaak ewe veel verdeeldheid in Australië as die Amerikaanse voetbalspeler Colin Kaepernick se standpunt teen rasse-ongelykheid in die VSA.

Dís die mening van die Wallaby-rugbyspeler Karmichael Hunt, ’n spanmaat van Folau by die Waratahs.

Israel Folau / Foto: Getty Images

Folau, ’n fundamentalistiese Christen wat al 73 toetse vir Australië gespeel het, is skuldig bevind aan ’n ernstige oortreding van Rugby Australië (RA) se gedragskode ná ’n inskrywing op sosiale media dat die “hel op dronkaards, homoseksuele, egbrekers en ander wag”.

Die tugkomitee van drie regsgeleerdes wat hom skuldig bevind het, sal na verwagting Vrydag ’n aankondiging oor Folau se straf doen. RA het vroeër reeds aanbeveel dat sy kontrak van sowat R40 miljoen oor vier jaar gekanselleer word.

Terwyl Folau se uitsprake op sosiale media woede onder gay-drukgroepe veroorsaak het, het RA se hantering van die kwessie ook konserwatiewe Christene en Wallaby-spelers met hul wortels in die Suidsee-eilande, wat Folau se mening deel, omgekrap.

Kaepernick het in 2016 ’n nasionale debat in die VSA ontketen deur met die sing van die Amerikaanse volkslied (’n gebruik voor Amerikaanse voetbalwedstryde) uit protes teen rasse-ongelykheid te kniel. Ander spelers het sy voorbeeld gevolg en selfs Donald Trump, die VSA se president, was warm onder die kraag daaroor.

Colin Kaepernick (middel) is een van die spelers wat uit protes teen rasse-ongelykheid in die VSA kniel terwyl die Amerikaanse volkslied gesing word. Foto: Getty Images

“Hierdie is beslis ’n eerste,” het Hunt Donderdag in Sydney aan joernaliste gesê.

“Dis ’n baie ingewikkelde kwessie en mense se menings daaroor is oor duisende jare gevestig. Dis iets wat ek nog nie ervaar het nie en dis ook ongekende terrein vir die sportlandskap.

“Die enigste soortgelyke voorval waaraan ek kan dink, is die Colin Kaepernick-kwessie in die VSA, wat verdelend was. Wat die Australiese landskap betref het ek egter nog nie vantevore só iets gesien nie.”

Dis nou al meer as ’n maand sedert Folau se omstrede inskrywing op sosiale media en meer as ’n week sedert hy skuldig bevind is aan ’n ernstige oortreding van RA se gedragskode.

Aktiviste in New York betoon hul solidariteit met Colin Kaepernick. Foto: Getty Images

Intussen het die Waratahs sonder hul top-heelagter gesukkel.

“Ek’s seker dis vir Izzy ’n frustrasie en dis vir al die betrokkenes frustrerend. Uit ’n selfsugtige oogpunt wens ek dit het nooit gebeur nie. Maar dit het en dís hoe dinge nou verloop. Jy het nie beheer daaroor nie,” sê Hunt.

Selfs ná die tugkomitee sy uitspraak gelewer het, sal Folau en RA die reg hê om te appelleer, wat beteken dat die einde van dié veelbesproke kwessie dalk nog lank nie in sig is nie.

– Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.