Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Folau steek voelers uit na Bulle

Die gedagte van die oud-Wallaby Israel Folau in ’n Bulle-trui op Loftus Versfeld, sal ondersteuners in dié kontrei geesdriftig maak.

So ook was Alfons Meyer, die Blou Bulle Maatskappy (BBM) se uitvoerende hoof, baie opgewonde toe iemand in die Folau-kamp onlangs die Bulle se belangstelling getoets het.

Israel Folau vroeër vanjaar in aksie vir die Waratahs. Folau het glo gehoop om in 2020 weer in ’n ligblou trui te speel, maar die Bulle het nie daarin belanggestel om met hom te onderhandel nie. Foto: Getty Images

“Ek is nie seker of dit Folau se prokureur is nie, maar ’n prokureur het ons genader om te hoor of ons sou belangstel om hom te kontrakteer.

“Dit het my aanvanklik opgewonde gemaak, maar as jy nugter oor die saak dink, is dit eenvoudig nie die risiko werd nie.

“Hy is net té omstrede en jy stel jou bloot deur hom te kontrakteer,” sê Meyer.

Folau sou nietemin ’n groot aanwins gewees het. Die Bulle soek juis ’n buitesenter met internasionale ervaring nadat Jesse Kriel weg is Japan toe.

Die 30-jarige Folau het in die verlede dikwels vir Australië en die Waratahs buitesenter gespeel.

’n Agterlyn met Folau, Warrick Gelant, Rosko Specman en Cornal Hendricks sou moles gemaak het op die aanval.

“Dit is jammer, want hy is ’n baie spesiale speler. Folau tel waarskynlik onder die voorste twee, drie spelers in die wêreld.

“Was dit nie vir sy uitsprake nie, sou ons wat wou gee om ’n speler met sy vermoëns in die groep te hê,” sê Meyer.

Rugby Australië (RA) het vandeesweek ’n vertroulike skikkingsooreenkoms met Folau bereik.

RA het Folau ná ’n marathon-onderhandelingsessie verskoning gevra vir “enige pyn of skade” wat hy en sy gesin gely het.

Folau het aangevoer hy is in Mei vanjaar onwettig afgedank weens sy geloofsoortuigings en hy was oorgehaal om RA in die hof te pak.

Meyer sê intussen hulle het probeer om die Skotse senter Huw Jones na Pretoria te lok vir die Superreeks.

Ons soek steeds na ’n senter wat op toetsvlak gespeel het.

“Ons soek steeds na ’n senter wat op toetsvlak gespeel het en ons wou met Huw onderhandel het, maar hy wil eerder Kaap toe gaan.”

Die Bulle-kaptein, Burger Odendaal, en Johnny Kotze lyk na die span se voorkeur-senterpaar vir volgende jaar se Superreeks.

Dylan Sage sal ook in Januarie weer by die span aansluit nadat hy by die Blitsbokke diens gedoen het.

Daar word ’n blink toekoms vir die Junior Springbok Marnus Potgieter voorspel, maar hy is net 20 en sal nie oorhaastig aan Superrugby blootgestel word nie.

Meer oor:  Toetsrugby  |  Israel Folau  |  Bulle  |  Superrugby  |  Alfons Meyer  |  Ra  |  Bbm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.