Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Folau was voorbladmodel vir gay-tydskrif
Adam-Ashley Cooper en Israel Folau saam op die voorblad van die Star Observer in 2014.Foto: Twitter/Star Observer

Dis dié voorbladfotosessie wat die onteerde Australiese rugbyspeler Israel Folau vir die res van sy lewe soos ’n skaduwee sal volg.

Die voormalige Wallaby-agterspeler en sy Waratah-spanmaat Adam Ashley-Cooper was in 2014 die voorbladmodelle vir die Australiese tydskrif Star Observer (SO).

Dié gratis maandelikse tydskrif word beskryf as ’n publikasie gemik op die LGBT-gemeenskap (lesbies, gay, biseksueel en transgender).

Die twee rugbysterre is op die voorblad gebruik om publisiteit te skep vir die terugkeer van die Binghambeker-toernooi na Sydney. Die toernooi is alom bekend as rugby se “Wêreldbeker-toernooi vir gays”.

Die toernooi is alom bekend as rugby se “Wêreldbeker-toernooi vir gays”.

Vyf jaar later het Rugby Australië Folau se baie lonende kontrak opgeskeur weens sy soveelste homofobiese uitspraak.

Dié keer het die ster gesê homoseksuele mense is onder diegene wat reguit hel toe gaan as hulle nie hulself bekeer nie.

Elias Jahshan, voormalige redakteur van die Star Observer, het vandeesweek gesê dat Folau beslis nie die tydskrif se eerste keuse as model was nie.

Volgens Jahshan wou die tydskrif eerder vir David Pocock as voorbladmodel gebruik het.

Hy sê dat die Star Observer “die rooi vlag gemis het” toe Folau ná die fotosessie nie beskikbaar was vir kommentaar ter ondersteuning van die toernooi nie.

“Folau was nie ons eerste keuse nie. Die voorbladberig het eintlik geen betrekking op die modelle gehad nie. Dit was om die terugkeer van die Binghambeker na Sydney te vier, tesame met Rugby Australië (RA) se daadwerklike poging om homofobie in die sport op alle vlakke ’n nekslag toe te dien,” skryf Jahshan vandeesweek in ’n meningstuk vir die SO.

David Pocock slyp sy baljagtersvaardighede tydens ’n Wallaby-oefening vanjaar. Foto: Getty Images

“Ons wou David Pocock op die voorblad gehad het. Hy is rugby se mees uitgesproke straight speler wat die LGBT-saak ondersteun. Hy was ongelukkig nie beskikbaar nie.”

Volgens die voormalige redakteur was daar tydens die fotosessie geen opsigtelike tekens dat Folau homofobies is nie, maar erken die tydskrif was waarskynlik ’n “bietjie naïef”.

“Toe die voorbladberig geskryf word, kon ons by Ashley-Cooper kommentaar kry oor sy steun vir die toernooi.

“Maar Folau was skielik nie beskikbaar om te praat nie. Ons het toe maar ’n woordvoerder van die toernooi aangehaal wat gesê het Folau is gekant teen alle vorme van diskriminasie.”

Jahshan skryf hy het gehoor Folau was baie gretig om vir die voorbladfoto te poseer en het selfs geen probleem gehad om die toernooi se amptelike spiertierfrokkie te dra nie. “Daar was geen aanduiding dat hy sterk gekant is teen gays nie.”

Hoe dit ook al sy, skryf Jahshan, dit alles het drie jaar later ’n bitter smaak gelaat toe Folau homself in die openbaar teen huwelike tussen mense van dieselfde geslag uitgespreek het.

“En toe kom die Instagram-boodskap vanjaar dat homoseksuele mense reguit hel toe gaan. Eers hierna het Rugby Australië sy kontrak opgehef."

En toe kom die Instagram-boodskap vanjaar dat homoseksuele mense reguit hel toe gaan. Eers hierna het Rugby Australië sy kontrak opgehef.
Elias Jahshan

Na dese kyk Jahshan na daardie SO-uitgawe met ’n bittersoet gevoel.

“Aan die een kant sou ek nooit Folau op die voorblad gebruik het as ek geweet het hy is homofobies nie. Maar aan die ander kant is ek bly dié voorblad bestaan want dit ontbloot Folau se skynheiligheid. Hy kom voor as ’n aartsopportunis, iemand wat net omgee vir eie belang, nie vir dit waarin hy kwansuis glo nie.” - stuff.nz

Meer oor:  Israel Folau  |  Sydney  |  Australie  |  Voorblad  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.