Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Fop-oproep’ van Rassie laat Kolbe tasse pak
Cheslin Kolbe, sy vrou, Layla, en dogtertjie, Kaylah, met die Webb Ellis-trofee ná die Springbokke se oorwinning. Foto: Getty Images

Die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe se vrou, Layla, het al begin hoop opgee dat haar man eendag vir Suid-Afrika op nasionale vlak rugby sou speel toe hy sy groot kans gekry het ná wat hulle gedink het blote gekskeerdery is.

Min het sy destyds geweet dat hy uiteindelik onder Rassie Erasmus, SA Rugby se direkteur van Rugby en voormalige Bok-afrigter, sy kans sou kry en sommer ’n jaar nadat hy sy debuut gemaak het, ook ’n Wêreldbeker saam met die span sou wen.

Layla het in ’n aanlyn gesprek van die Chris Burger/Petro Jackson-spelersfonds en Brightrock se Women in Rugby-reeks gesê toe hulle Kaapstad aan die einde van 2017 verlaat om nes te skop by die Toulouse-rugbyklub in Frankryk, het sy gedink dis die einde van Cheslin se Bok-droom.

“Ek het toe nie gedink Suid-Afrikaanse rugby sou hul obsessie met grootte verander nie,” het sy sonder aarseling gesê.

“Maar Cheslin het nooit sy droom laat vaar nie. Hy het altyd in al sy onderhoude gesê hy gaan steeds sy droom nastreef. In 2018 het ons Siya (Kolisi, Springbok-kaptein) se eerste wedstryd as kaptein op Ellispark kom kyk.

“Siya het vir ons kaartjies gekry en ons het in die stadion soos gewone ondersteuners gesit en kyk. Die gedagte het by my opgekom dat dit Cheslin kon wees wat daar draf. Dit was moeilik vir my om daar te sit, want ek het geweet wat sy potensiaal is. Ek het dit egter nooit vir hom gesê nie, want dit sou hom dalk geestelik raak. Ek het altyd geweet hy gee sy beste en dis die afrigters en keurders se besluit om hom te kies of nie. Ek moet bieg, ek het ’n bietjie moed opgegee. Maar daar was ook altyd die hoop dat dit eendag sou gebeur.”

Toe Rassie Erasmus in 2018 kontak met Kolbe maak het, het die Bok-vleuel en sy vrou gedink dis iemand wat die gek skeer. Want hoe sal Kolbe dan nou ’n jaar voor die Wêreldbekertoernooi sommer uit die bloute ’n oproep van die Bok-afrigter kry om sy debuut te maak.

Dié “fop-oproep” het die Kolbe’s geïgnoreer en nie veel daarvan gemaak nie.

Maar Cheslin het nooit sy droom laat vaar nie.

“Cheslin het die volgende dag by die oefening opgedaag en sy afrigters het hom gevra of hy die oproep gekry het. Hy wou weet watter oproep. Toe sê hulle aan hom hy gaan Suid-Afrika toe en dat hy vir hulle biltong moet saambring wanneer hy terugkom. Daarna het Rassie hom weer gebel en dit het ingesink. Ons het toe onmiddellik planne gemaak om na Suid-Afrika terug te keer.”

Kolbe het in 2018 sy Springbok-debuut teen Australië in die Rugbykampioenskapsreeks gemaak. Met nog net 14 toetse agter sy naam, spog hy met ’n Wêreldbeker-wennersmedalje en is hy een van slegs twee Springbokke – die ander is sy vleuel-maat Makazole Mapimpi – wat al in ’n Wêreldbeker-eindstryd ’n drie gedruk het.

Layla het die Bokke se Wêreldbekerveldtog as ’n wipwaentjie-rit vol emosies beskryf. En sy was vol lof vir hoe die Springbok-bestuur die gesinne van die Springbok-spelers deel van die Bokke se toernooi en triomf gemaak het.

“Ek dink amper ons was een van die enigste spanne waar ons ’n kamer kon deel met ons mans. Nieu-Seeland en Engeland se vroue was almal in verskillende hotelle as die spelers.

“Rassie is egter baie ingestel op die gesin en hul ondersteuning.”

Layla het ook onthul dat die Wêreldbeker-organiseerders die Springbokke se vliegtuigkaartjies huis toe reeds vir ná die kwarteindronde bespreek het.

“Maar ek het geen twyfel gehad nie. My kaartjie terug was vir die dag ná die eindstryd bespreek. En ek het dit so gehou.”

Meer oor:  Cheslin Kolbe  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.