Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Foster glimlag breed ná slagting

Verligting. Dit is die beste wyse om die All Blacks se breier Ian Foster se emosies te beskryf nadat sy span uiteindelik na ’n hoër rat oorgeskakel het in hul laaste wedstryd van die Drienasies-reeks.

Die All Blacks se afrigter Ian Foster was ’n verligte man nadat sy span vir Argentinië geklop het. Foto: Getty Images

Die Kiwi’s het vir Argentinië met 38-0 oorrompel en is op die drumpel om die titel boonop te verower.

Nieu-Seeland het hul veldtog op die perfekte noot afgeskop toe hy vir Australië met 43-5 platgevee het, maar Foster is sedertdien onder geweldige druk geplaas nadat sy span daarna teen die Wallabies die knie moes buig, voordat hulle die eerste keer in hul geskiedenis teen die Poemas vasgeval het.

“Die nederlaag van twee weke gelede maak steeds seer, maar vanaand was belangrik om dit reg te stel,” het Foster gesê.

“Dit was steeds ’n taai toets en dit het lank geneem om hulle (die Argentyne) te breek. Ek was net mal oor die geduld. Ons het hulle forseer om baie duikslae te maak en in hierdie toestande het hulle daarvoor betaal.

“Dit het beslis in die laaste kwartier deurgekom en dit is wat ons verwag het.”

Foster het net drie veranderinge aan sy span aangebring wat teen Argentinië verloor het en hy is beloon vir sy vertroue.

“Ons het net nie vertroue verloor in wat ons gedoen het nie,” het hy gesê.

Die nederlaag van twee weke gelede maak steeds seer, maar vanaand was belangrik om dit reg te stel.
Ian Foster

“Dit was ’n paar groot weke, maar die ouens is steeds doelgerig om te speel en ek dink ons het vandag die formule reggekry.”

Mario Ledesma, die Poemas se breier, het weer gevoel dat sy span geleenthede gehad het om nog ’n hoofstuk in hul sprokiesverhaal by te voeg nadat hulle hul sege oor die All Blacks met ’n gelykopuitslag teen die Wallabies opgevolg het.

Waar sy span twee weke gelede byna perfek was, het hulle die naweek aanhoudend besit weggegee wanneer ’n geleentheid hom voorgedoen het om druk op hul teenstanders te plaas.

“ ’n Rits foute en balle wat laat val is,” het hy gesê.

“Dit is moeilik om objektief te wees, maar ek dink nie die telling weerspieël die wedstryd nie.”

Die Poemas sal vir Australië met 93 punte moet klop om die titel volgende week te wen, maar Ledesma was vinnig om te beloof dat sy span volgende week weer met nog ’n geesdriftige vertoning vorendag sal kom.

“Ons het volgende week ’n groot een wat wag en ons is baie bewus daarvan en doelgerig om ’n goeie wedstryd te speel,” het hy bygevoeg.

• Australië sal vir Argentinië op sy beurt weer met 101 punte moet klop indien hy die Drienasies-titel wil vasmaak. – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Mario Ledesma  |  Ian Foster  |  Argentinië  |  Drienasies-Reeks  |  Wallabies  |  Poemas  |  All Blacks  |  Nieu-Seeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.