Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Foster kies 7 groentjies in sy All Black-groep
All Black-nuweling Caleb Clarke staan Sondag die media te woord nadat hy by Ian Foster (afrigter) se groep van 35 ingesluit is.Foto: Getty Images

Die Blues-sterre Caleb Clarke en Hoskins Sotutu en die Crusaders-sensasie Will Jordan is onder die sewe nuwelinge wat die All Black-rugbybreier, Ian Foster, Sondag by sy groep van 35 ingesluit het.

Foster het 20 voorspelers en 15 agterspelers gekies en die aankondiging gedoen ná die opwindende kragmeting die naweek tussen die spanne van die Noord- en Suideiland.

Die Suideiland het Saterdag dié wipplank-stryd, tradisioneel proewe vir All Black-insluiting, met 38-35 gewen.

Vir Clarke en Sotutu was daar Saterdagaand na die kragmeting nie veel slaap nie.

Die twee was onder die “moontlikes” vir insluiting in die nasionale span, maar is ná die wedstryd na hul hotelkamers in Wellington met niks behalwe ’n boodskap van die spanbestuur, wat neergekom het op “moet ons nie bel nie, ons sal jou bel”.

Clarke erken hy het Saterdagnag nie ’n oog toegemaak nie, terwyl Sotutu vroeg Sondagoggend reeds uit die vere was en doelloos in sy hotelkamer rondgedrentel het.

Albei se gevierde kamermaats, wat seker was van hul insluiting in Foster se groep, het die petalje terdeë geniet.

“Ek was so op my senuwees. Ek het jammer gevoel vir my kamermaat, Aaron Smith, want ek kon eenvoudig nie Saterdagnag aan die slaap raak nie,” het Clarke Sondag gesê.

Hy kon uiteraard hoor ek rol onrustig rond. Toe vra hy maar of ek dalk ’n ou slaappilletjie nodig het. Dit was nogal snaaks. Maar net as jy nie aan die ontvangkant is nie.
Caleb Clarke

“Hy kon uiteraard hoor ek rol onrustig rond. Toe vra hy maar of ek dalk ’n ou slaappilletjie nodig het. Dit was nogal snaaks. Maar net as jy nie aan die ontvangkant is nie.”

Die 21-jarige vleuel het van aanspraakmaker op plek in die Nieu-Seelandse Olimpiese sewesspan tot groot uitskieter vir die Blues in die afgelope Aotearoa-reeks gespring.

Toe, uiteindelik om 8:05, Sondagoggend, lui sy foon.

“Ek het na gospelliedjies geluister toe my selfoon lui. En toe sê Darren (Shand, All Black-spanbestuurder) hy het goeie nuus vir my.

“Ek het ná die gesprek in trane uitgebars. Maar dit was trane van blydskap. ’n Lewenslange droom is bewaarheid. Ek gaan die All Black-trui dra. Ek volg in my pa se groot voetspore,” het die fris blits bygevoeg.

Die pa na wie hy verwys, is die All Black-legende Eroni Clarke, wat nes sy seun, bekend was om sy spoed, krag en vreesloosheid teen verdedigers.

Clarke het nooit kon dink hy sal ook, soos sy pa, die All Black-trui dra nie. Hy het die jaar begin met droom om die Kiwi’s se sewesspan te haal die Olimpiese Spele in Tokio. Maar toe kom beduiwel Covid-19 alles.

Die fris losvoorspeler Hoskins Sotutu was in die Aotearoa-reeks 'n uitblinker vir die Blues. Foto: Getty Images

’n Paar kamers verder in die gang af was die Blues-kaptein, Patrick Tuipulotu, nog diep in droomland toe hy deur so rustelose jong spanmaat, Sotutu, wakker gemaak is.

Dié agtsteman het ook pas ’n oproep van Shand ontvang en was so in die wolke. Hy moes net die nuus met iemand deel.

“Ek het gesukkel om te slaap. Die spanbestuur het gesê hulle sal vroeg Sondagoggend bel om te laat weet of ek in is of nie. Ek het nie geweet hoe vroeg nie. Toe staan ek maar sesuur op,” het Satutu Sondag gesê.

Hy moes twee bitter lang ure wag voordat daai oproep uiteindelik gekom het.

“Ek kan nie verwoord hoe lank dit gevoel het nie. Maar die wag was die moeite werd,” het agtsteman met ’n breë glimlag bygevoeg.

Dis ’n baie spesiale oomblik. Dis ’n baie spesiale span. Nie nie die lostrio nie (waar hy saam met die hardebaarde Ardie Savea sy Blues-spanmaat Akira Ioane sal diens doen), maar die hele groep.
Hoskins Sotutu

“Dis ’n baie spesiale oomblik. Dis ’n baie spesiale span. Nie nie die lostrio nie (waar hy saam met die hardebaarde Ardie Savea sy Blues-spanmaat Akira Ioane sal diens doen), maar die hele groep,” het die 22-jarige gesê.

“Jy kry nie veel beter as Damian McKenzie op heelagter, Baz (Beauden Barrett) op nr. 10 en TJ (Perenara) en Aaron Smith op skrumskakel nie. Om deel van dié groep te wees is ’n droom wat bewaarheid is.”  - Sportredaksie; stuff.co.nz

Die All Black-groep is:

Hakers: Asafo Aumua, Dane Coles, Codie Taylor; Stutte: Alex Hodgman, Nepo Laulala, Tyrel Lomax, Joe Moody, Karl Tu’inukuafe, Ofa Tuungafasi; Slotte: Quinten Strange, Patrick Tuipulotu, Tupou Vaa’i, Sam Whitelock; Losvoorspelers: Sam Cane (k), Shannon Frizell, Cullen Grace, Akira Ioane, Dalton Papalii, Ardie Savea, Hoskins Sotutu; Skrumskakels: TJ Perenara, Aaron Smith, Brad Weber; Losskakels: Beauden Barrett, Richie Mo’unga; Senters: Braydon Ennor, Jack Goodhue, Rieko Ioane, Anton Lienert-Brown; Buite-agterspelers: Jordie Barrett, George Bridge, Caleb Clarke, Will Jordan, Damian McKenzie, Sevu Reece.

Meer oor:  Ian Foster  |  Nieu-Seeland  |  Rugby  |  Aotearoa-Reeks  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.