Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Fourie: ‘By dié Bulle wil ek nie brei’

Die voormalige Springbok-kaptein Fourie du Preez glo die huidige Bulle-struktuur en -kultuur maak sukses bykans onmoontlik en daarom wil hy hom nie beskikbaar stel vir enige afrigterspos by dié unie nie.

Fourie du Preez

Du Preez glo wel sy voormalige spanmaat en Bok-slot Victor Matfield sal die ideale kandidaat wees om by John Mitchell oor te neem as dié Kiwi besluit om sy pos as die Bulle-breier vaarwel te roep en hom in Engeland te gaan vestig.

Du Preez, wat die span by die Wêreldbekertoernooi in 2015 tot die halfeindronde aangevoer het, se naam is saam met dié van Matfield genoem as een van die gunstelinge om Mitchell op te volg.

“Gesinstyd en balans in die lewe is tans die heel belangrikste vir my en die huidige strukture by die Bulle veroorsaak dat sukses baie onwaarskynlik sal wees,” sê Du Preez.

“Die besluite wat die laaste sewe jaar daar geneem is, het die span van die heel beste na ’n baie middelmatige span laat uit­sak. Niemand het nog aanspreeklikheid daarvoor aanvaar nie? Daarmee kan ek nie saamwerk nie.”

Volgens Du Preez is die kultuur ook gebrekkig.

“Ek kry die spelers wat in só ’n kultuur moet werk, jammer en ek verstaan hoekom daar nie lojaliteit is nie.”

Xander Janse van Rensburg, die Bulle se hoëprestasiebestuurder, wou nie op Du Preez se aanmerkings kommentaar lewer nie.

Du Preez glo Matfield is die beste kandidaat vir die pos omdat hy die “aanvals- en voorspeler-afrigter was toe die Blou Bulle in 2013 bo-aan die Curriebeker-puntelys geëindig het”.

“Victor het die nodige rugbykennis en passie vir die spel. Maar dit gaan vir hom moeilik wees om suksesvol te wees as daar nie drastiese veranderinge aan die struktuur aangebring word nie.”

Die voormalige Bok-afrigter Jake White het vandeesweek in ’n rubriek vir All Out Rugby steekhoue na Du Preez en Matfield ingekry en gesê hulle is nie ervare genoeg om hoofafrigters op Superrugby-vlak te word nie.

Matfield het Vrydag op Netwerk24 teruggekap en gesê Jake het ’n mening oor alles.

“Jake het nog altyd ’n mening oor alles gehad. Ek wonder of hy weet ek het voorheen drie jaar by die Bulle afgerig en verlede seisoen (in die Curriebeker-kompetisie) by die Leeus,” sê hy.

“Ek glo daar is plek vir albei afrigters in moderne rugby. Die een wat hom van skole- en klubvlak opwerk boontoe en die een wat die oorgang vinniger gemaak het.

“Vat maar vir Mark Boucher (die voormalige Protea-paaltjiewagter). Hy het begin afrig kort nadat hy ophou speel het, en kyk hoe suksesvol is hy by die Titans.

“Rassie Erasmus is dalk die beste voorbeeld. Hy het een jaar Loftus toe gekom as speler en die volgende jaar die Curriebeker kom wen as afrigter.

“In Nieu-Seelandse rugby is daar ouens soos Aaron Mauger en Tony Brown wat ’n paar seisoene terug gespeel het en nou Superrugby-afrigters is.”

BBM sê gou oor Mitchell

Die Bulle sal na verwagting dié week amptelik aankondig dat John Mitchell Loftus vir Engeland gaan verruil om by Eddie Jones se afrigtingspan aan te sluit.

Die Bulle en die Engelse Rugbyunie (RFU) onderhandel die afgelope paar weke oor ’n oordragfooi vir Mitchell.

Die RFU het aanvanklik sowat R900 000 aangebied, terwyl die Bulle ’n bedrag van R9 miljoen geëis het om Mitchell van sy kontrak vry te stel. Daar word verwag dat hulle vir sowat R4 miljoen sal skik en dat Mitchell volgende maand reeds in Engeland kan begin afrig. 

Meer oor:  Blou Bulle  |  Fourie Du Preez
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.