Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Fourie ploeg WB-ervaring terug in klub

Jaque Fourie ploeg al die ervaring wat hy onder meer tydens die afgelope Wêreldbekertoernooi in Japan as die VSA se verdedigingsafrigter opgedoen het, nou in Suid-Afrikaanse rugby terug.

Die 36-jarige voormalige Springbok-senter het sy gewig en kennis by die Hoërskool Noordheuwel en die Roodepoort-rugbyklub ingegooi. “Ja, ek doen tans konsultasiewerk vir klubs en skole,” sê Fourie.

“Dit is sover baie lekker. Ek gaan Noordheuwel se verdediging – van die juniors tot die seniors – hanteer.

“Ek gaan in die aande ’n bietjie by Roodepoort help.”

Jaque Fourie

Fourie sê hy doen nie baie ander goed tans nie omdat sy onderneming goed op dreef is. Daarom het hy besluit om by skolerugby betrokke te raak.

Hy en sy vennoot het onder meer ’n stem- en data-onderneming. “Op die oomblik doen ek net konsultasiewerk (in rugby). Ek wil dit vir die volgende jaar of twee doen, en nog leer terwyl ek daarmee besig is.”

Fourie sê hy beplan om ’n draai by Johann van Graan by Munster te maak en wil ook graag tyd saam met Eddie Jones, Engeland se afrigter, deurbring om by hom te gaan leer.

“Dit is my plan vir die volgende jaar of twee en om dit dan van daar af te vat,” sê hy.

Fourie wil ook konsultasiewerk by ’n paar spanne in Japan doen.

Hy sê hy het die Wêreldbeker verlede jaar in Japan baie geniet en in die proses baie geleer by Gary Gold, die VSA se hoofafrigter en ’n voormalige Bok-hulpafrigter.

“Dis baie anders om as ’n afrigter, en nie ’n speler nie, na ’n Wêreldbeker te gaan. Dit was baie meer ontspanne.

“Ons het nie te goed gevaar nie, maar dit is ’n bouproses vir Amerika. Nietemin was dit ’n lekker ondervinding.

“Ek was nie daar toe die Bokke die Wêreldbeker gewen het nie. Ek was 14 weke weg van die huis af. Toe ons uitval, het ek huis toe gegaan.

“Ek het die wedstryd by die huis gekyk en dit was vir my baie lekker. Ek is baie bly vir Rassie (Erasmus) en die spelers.”

Selfs as speler het Fourie, ’n oudleerling van die Hoërskool Monument, onskatbare kennis by onder meer die Leeus, Stormers, Panasonic Wild Knights en Kobelco Steelers opgedoen.

Hy was ook ’n afrigter by die Western Force in Australië.

Fourie het die Bokke tussen 2003 en 2013 in 72 toetse verteenwoordig, waarvan sy 55 op senter naas Jean de Villiers se 92 die meeste deur enige Bok op toetsvlak in dié posisie is.

Fourie is een van verskeie oud-Springbokke soos Slaptjips (Pieter) Rossouw (Paarl Gimnasium), Marius Joubert (Stellenburg), Helgard Müller (Grey-kollege), Deon Carstens (Boland Landbou) en Wian du Preez (Grey-kollege) wat deesdae by skolerugby betrokke is.

Jake White, voormalige afrigter van die Springbokke, is ook as ’n konsultant by HTS Drostdy betrokke.

Meer oor:  Jaque Fourie  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.