Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Foute pootjie Cheetahs teen Scarlets

Foute op kritieke tye het daartoe gelei dat die Cheetahs Saterdag hul tweede nederlaag in net soveel toerwedstryde in die Pro14-reeks gely het.

Tian Meyer gaan oor vir die Cheetahs se enigste drie teen die Scarlets Saterdag in Llanelli, Wallis. Foto: Gallo Images

Die Scarlets het die Cheetahs met 17-13 in Llanelli, Wallis, in die spanne se Pro14-wedstryd geklop, maar dit kon ’n heel ander storie gewees het as die Cheetahs dalk ’n bietjie meer geduld aan die dag gelê het.

As is egter verbrande hout en die Cheetahs kan net hulself vir dié nederlaag blameer.

Die kwaai reën wat uitgesak het, het nie juis hardlooprugby bevorder nie, maar die kere dat die Cheetahs in gunstige posisies was nadat hulle geleenthede geskep het, het hulle dit egter nie gebruik nie.

Toe die rustyd aangebreek het, was die tuisspan met 14-7 voor en sake was toe nog gelykop, behalwe dat die Cheetahs swaar in die skrums geleef het in daardie eerste helfte.

Die Cheetahs was eerste op die telbord nadat die senter Benhard Janse van Rensburg die bal by ’n losgemaal gesteel en weggebreek het en toe met ’n voetaangee sy kaptein en skrumskakel, Tian Meyer, weggestuur het om te gaan druk.

Alles was teen die verloop van die spel nadat die Scarlets teen daardie tyd die meeste van die speelwerk gedoen het, terwyl die Cheetahs moes walgooi.

Meyer was daarna maar redelik min deel van die aksie en dit het gelyk of hy gesukkel het op die swaar veld.

Dit is so dat verdediging wedstryde wen, maar in dié geval het dit die Cheetahs se energie in die eerste 20 minute getap.

Dit sou net ’n kwessie van tyd wees voor daar gate in die verdediging sou oopgaan vir Scarlets se vleuel Steff Evans om sy 41ste drie in sy 100ste wedstryd te druk.

Die deurdringende reën het egter verhoed dat die Cheetahs die hoë-intensiteit-rugby wat hulle in hul eerste drie wedstryde gehandhaaf het, kon speel. Dit gesê, het die Scarlets op hul beurt elke kans wat hulle geskep het tot hul voordeel gebruik.

’n Gebrek aan konsentrasie eerder as swak verdediging het tot die Scarlets se tweede drie gelei toe die skrumskakel, Kieran Hardy, om die steelkant gebars het om te gaan druk om sy span met ’n verdoelde drie te laat voorloop.

Die spanne het in die eerste 40 minute goed teen mekaar opgeweeg, maar Scarlets was ’n titseltjie beter as die Cheetahs.

Met minder as tien minute speeltyd oor het dit gelyk of die Cheetahs met een van hulle kenmerkende dryfmaalbewegings ’n drie gaan druk nadat hulle die Scarlets in trurat gehad het, maar die bal is verloor en dit het die Bloemfonteiners se vertoning opgesom.

Hopelik sal die Cheetahs vinnig genoeg hergroepeer vir volgende week se stryd teen die Cardiff Blues, wat moontlik hulle vyf Walliese Wêreldbeker-spelers tot hulle beskikking sal hê.

* Puntemakers:

Scarlets 17 (14): Drieë: Steff Evans, Kieran Hardy. Doelskoppe: Dan Jones (2). Strafdoel: Jones.

Cheetahs 13 (7): Drie: Tian Meyer. Doelskop: Tian Schoeman. Strafdoele: Schoeman, Ruan Pienaar.

Meer oor:  Scarlets  |  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.