Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Francke (22) hou Leeus se leisels

Die Leeus sal die Pumas Vrydagaand in Mbombela pak met ’n heel nuwe senterpaar en skakelpaar as in hul laaste Reënboogbeker-wedstryd – en met die kapteinsband om die arm van ’n 22-jarige.

Die jong agtsteman Francke Horn kry Vrydag in Mbombela kans om sy leierseienskappe teen die Pumas uit te stal. Foto: Gallo Images

Vier jaar nadat Francke Horn as matriekseun gevrees het ’n hartkwaal sou sy droom van ’n sportloopbaan in die wiele ry, sal dié jong agtsteman voor uitdraf in die Leeus se eerste Curriebeker-wedstryd.

Die Johannesburgers het sedert die vertrek van Elton Jantjies besluit om nie een voltydse kaptein aan te stel nie, maar eerder ’n leiersgroep, wat die kapteinskap tussen hulle kan roteer. Horn is die jongste lid van die groep wat kans kry om homself te bewys. Dan Kriel en Burger Odendaal het in die Reënboogbeker-reeks kans gekry om die span te lei.

Die voormalige onderkaptein van die Junior Bokke is vir ’n paar weke buite aksie gehou deur ’n seer enkel, maar is terug om ’n lostriokombinasie saam met Vincent Tshituka en die 20-jarige Sibusiso Sangweni (ook ’n voormalige Junior Bok) te vorm.

Odendaal, die Leeu-kaptein in die laaste deel van die Reënboogbekerreeks, is nie vandeesweek in die 23-tal wat Mbombela toe reis nie, maar Kriel is wel. Hy sal in die nr. 12-trui aantree, terwyl Manuel Rass langs hom die posisie sal inneem wat Wandisile Simelane se vertrek na die Springbok-kamp vakant gelaat het.

Ook die skakelpaar lyk vandeesweek heeltemal anders. Die skrumskakel Dillon Smit sal vir die eerste keer in meer as drie maande in die Leeus se beginspan wees, met die gereelde nr. 9, André Warner, op die krukkelys met ’n gebreekte kakebeen. Fred Zeilinga sal die losskakelkanaal beman.

Die lynstane sal die verantwoordelikheid van Reinhardt Nothnagel en die veteraan Willem Alberts wees. Albei vorm ook deel van die Leeus se leiersgroep, met Nothnagel wat moontlik die kapteinsverantwoordelikhede kan oorneem as Horn die veld moet verlaat.

Alberts is, soos Smit, vir die eerste keer sedert die voorbereidingsreeks in die beginspan, nadat hy in die laaste paar wedstryde van die bank af opgekom het.

Die Leeus het ’n paar dramatiese weke agter die rug en daar is steeds spelers wat nie oorweeg kan word nie omdat hulle verlede week positief vir Covid-19 getoets is.

Ivan van Rooyen, die span se afrigter, sê almal is nietemin nou opgewonde om die Curriebeker op ’n hoë noot te probeer afskop.

Van Rooyen het wel benadruk dat hulle die Pumas glad nie sal onderskat nie. Daarvoor was daar gans te min verskil tussen die twee spanne op die telbord in hul laaste twee kragmetings (wat die Leeus met onderskeidelik vier en agt punte gewen het).

“Hulle sou beslis baie hard gewerk het om reg te wees vir die Curriebeker en hulle het ’n span met ’n gevestigde kern en ’n gevestigde afrigterskorps,” sê Van Rooyen.

“Ons gaan ook nie die fout maak om te dink hulle sal verroes wees omdat hulle lanklaas gespeel het nie. Ons het eintlik ook maar min gespeel – net een wedstryd in die laaste drie weke – so ons weet van beter as om daarop staat te maak.”

Leeus: EW Viljoen, Jamba Ulengo, Manuel Rass, Dan Kriel, Rabz Maxwane, Fred Zeilinga, Dillon Smit, Francke Horn (k), Vincent Tshituka, Sibusiso Sangweni, Reinhardt Nothnagel, Willem Alberts, Carlu Sadie, PJ Botha en Nathan McBeth. PLAASVERVANGERS: Morné Brandon, Banele Mthenjane, Ruan Dreyer, Ruhan Straeuli, Emmanuel Tshituka, Ross Cronjé, Aidynn Cupido en Duncan Matthews.

Meer oor:  Leeus  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.