Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Eindstryd belangrik vir Italiaanse rugby

Die Bulle en Benetton sal Saterdag in Treviso uiteenlopende uitdagings in die Reënboogbeker-eindstryd hê, sê Franco Smith, voormalige afrigter van Italië en nou die Azzurri se hoof van hoëprestasie.

Vir die Bulle sal kommer in die gemoed om teen ’n Italiaanse span te verloor, een daarvan wees.

Die Bulle sal ook aanpassings moet maak met hul taktiese skopwerk, want die bal trek nie naastenby so ver soos op Loftus Versfeld nie, sê die voormalige breier van die Cheetahs.

Smith sê die tuisspan sal hoogs gemotiveerd en met baie passie in die Stadio Comunale di Monigo speel.

Benetton se afrigter, die Kiwi Kieran Crowley, is as Smith se opvolger aangestel by die nasionale span en sy spelers sal hom op ’n gepaste wyse wil groet.

Franco Smith, voormalige hoofafrigter van Italië, sê Benetton, die Bulle se teenstander in die eindstryd van die Reënboogbeker-reeks, moenie onderskat word nie. Foto: Getty Images

“Marius Goosen (’n hulpafrigter van Italië) neem ook afskeid ná ’n verbintenis van 17 jaar met Benetton, so daar is baie om voor te speel.”

Daar is doemprofete wat voorspel Benetton, wat onoorwonne is in die Europese Reënboogbeker-weergawe, behoort nie veel teenstand teen die Suid-Afrikaanse kampioenspan te bied nie.

’n Eindstryd teen Leinster of Munster sou ’n beter aptytwekker gewees het vir die Pro16-reeks (voortaan bekend as die Verenigde Rugbykampioenskap), word aangevoer.

Benetton het in die Reënboogbeker-reeks ’n puik tuisoorwinning van 46-19 oor die Glasgow Warriors behaal, daarna die sukkelende Zebre weg en tuis geklop en toe ’n louwarm oorwinning oor die Ierse span Connacht in Treviso behaal.

“Dit is so, Benetton was nie een van die tradisionele sterk spanne in die Pro14 nie, maar was die laaste ruk goed op dreef en die wedstryd is baie belangrik vir Italiaanse rugby.

“Daar is 11 van Benetton se spelers wat in ons laaste Sesnasies-toets (teen Skotland) vir Italië gespeel het.

“Hoewel Benetton spelers met toetservaring het, behoort die Bulle ’n voordeel te hê, want hulle is gewoond aan hoëdruk- en uitklopwedstryde.

“Die Bulle het ook ’n fisieke agttal en ek glo dit is voorlangs waar die uitslag bepaal sal word.”

Benetton se slotpaar, Niccolo Cannone en Federico Ruzza, was ook Italië se voorkeur-slotte in die laaste Sesnasies-toets op Murrayfield.

Dit terwyl die Bulle sonder Trevor Nyakane, Marco van Staden, Elrigh Louw en Duane Vermeulen in die agttal is.

Smith sê Benetton sal in ’n mate ’n Suid-Afrikaanse ingesteldheid hê.

Die haker Corniel Els, wat nog verlede seisoen vir die Bulle gespeel het, is ’n yster in die pak, terwyl Irné Herbst, een van die ander slotte in Benetton se groep, sy loopbaan destyds by die Bulle begin het.

Die 33-jarige oud-Stormer Dewaldt Duvenage (skrumskakel) is een van Benetton se sleutelspelers agter die oond.

Sy vennootskap met Paolo Garbisi, belowende jong losskakel van Italië, kan deurslaggewend wees.

Dit is tans warm in Italië en daar word voorspel dat die kwik Saterdag by 32 °C kan draai in Treviso, maar Smith sê dit sal nie ’n probleem vir Jake White se span wees nie.

“Die humiditeit is hoog, maar die Bulle het Saterdag in Durban gespeel, waar dit waarskynlik hoër was.

“Die Bulle sal ook nie vlugflou wees nie. Toe ek die Cheetahs afgerig het, het ons baiekeer eers die Donderdag Europa toe gevlieg.”

Meer oor:  Benetton  |  Bulle  |  Franco Smith  |  Reënboogbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.