Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Franco Smith kry lof, al verloor Italië
Sebastian Negri van Italië storm oor die Franse se Julien Marchand Sondag in Parys. Foto: Reuters

Die Italiaanse rugbyafrigter, Franco Smith, het Sondag ’n pluimpie by die oud Walliese agterspeler-legende Jonathan Davies gekry vir sy span se aanvallende benadering in sy Sesnasies-wedstryd teen Frankryk.

Die Italianers is in Parys met 35-22 deur Frankryk in die Sesnasies geklop, maar die Azzurri het drie drieë gedruk. Twee daarvan is deur die vleuels, Matteo Minozzi en Mattia Bellini, bygedra, en die derde deur die plaasvervanger-haker, Federico Zani.

Smith het die span binne ’n week ’n metamorfose laat ondergaan nadat hulle verlede Saterdag met 42-0 deur Wallis gekarnuffel is.

Die Italiaanse kaptein, Luca Bigi, was Sondag in sy noppies met sy span se vertoning.

“Ons het gewys hoe gevaarlik ons kan wees op die aanval. Ons het ’n drie in die laaste minuut gedruk en nooit opgegee nie. Ek is trots om ’n lid van dié span te wees. Dié vertoning was ongelooflik,” het Bigi aan die BBC gesê.

Die Italiaanse losskakel Tommaso Allan het in sy onderhoud gesê hul doelwit was om meer aanvallend te speel.

“Ons probeer om met grote intensiteit te speel. Ons het almal ingekoop in die nuwe patroon en ons gaan harder werk om binnekort die vrugte te pluk.”

Die Hane is ná hul bonuspunt-sege voor op die puntelys en is saam met Ierland (wat Wallis Saterdag in Dublin met 24-12 geklop het) die enigste twee onoorwonne spanne in die kompetisie.

Frankryk se vyf drieë is deur Teddy Thomas, Charles Ollivon, Gregory Alldritt, Romain Ntamack en Baptiste Serin gedruk.

Daar heers groot opgewondenheid in Franse rugby oor vanjaar se span. Die Hane kon die Sesnasies laas in 2010 wen.

Die huidige span, wat wemel van jongelinge, is besig om ’n vernuwingskuur onder die nuwe afrigter, Fabian Galthie, te ondergaan.

Paul Willemse, ’n oud-slot van die Bulle wat nou vir die Franse speel, het aan die BBC gesê die Hane is in hul noppies met die bonuspunt.

“Die atmosfeer in die span is fantasties. Ons het ’n plan wat gevolg word. Dit is om ons eie stukkie geskiedenis te skryf en ons begin om dit te doen,” het Willemse gesê.

* Intussen het die Engelse afrigter, Eddie Jones, gal gebraak oor die “onbeskofte” Skotse toeskouers in Saterdag se stryd op Murrayfield.

Engeland het die Skotte met 13-3 geklop en darem die Calcuttabeker gewen.

Jones het gesê dat ’n lid van sy bestuurspan, Neil Craig, voor die afskop deur ’n plastiekbottel getref is.

“Ons het nie verwag dat bottels gegooi sou word nie. Jy moet baie braaf wees om ’n bierbottel te gooi. Dis is mos nie goeie maniere nie, is dit?”

* Die Engelse Rugbyunie het gister ontken dat daar ’n gesprek was tussen die RFU en die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, oor die moontlikheid om Jones as afrigter op te volg.

Volgens ’n berig in Rapport het die RFU voelers uitgesteek na Erasmus, wat op Murrayfield was vir Engeland se wedstryd.

’n Woordvoerder van die RFU het volgens Sky Sports die berig ten sterkste ontken. – Sportredaksie

Meer oor:  Frankryk  |  Sesnasies-Reeks  |  Italië  |  Eddie Jones  |  Franco Smith  |  Sesnasies  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.