Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Smith kry goue groet ná Cheetahs Leeus slag
Franco: VS-Cheetahs van ‘nulle tot bulle!’

Verlede jaar was ons nog in ’n promosie-relegasie-wedstryd betrokke, vanjaar wen ons hom,” was ’n emosionele Franco Smith se reaksie nadat sy Vrystaat-Cheetahs gister die Curriebeker verower het.

Dit nadat die Cheetahs die Goue Leeus met 31-28 in die eindstryd in Bloemfontein geklop het.

“Teen die einde was dit ’n goeie oorwinning van ’n span wat alles in die stryd gewerp het om te wen.

Die Cheetah-haker, Joseph Dweba, duik gister oor die doellyn. Ruan Pienaar is reg om hand by te sit. Foto: jj Vorster, SPEEDSHOTS.co.za

“Anders as toe ons moes terugveg teen die WP en die Haaie, wou ons nie die ondersteuners teleurstel toe ons voorgeloop het nie. Ons het weer ons voorsprong verdedig,” sê Smith.

Ook die Bok-afrigter sou van die oorwinning kennis geneem het. Rassie Erasmus kan gerus die name wat hy as loskopstut en haker op sy kortlys in die geval van beserings tydens die Wêreldbekertoernooi het, dadelik uitvee en met Ox Nche en Joseph Dweba s’n vervang.

Dié brekers was in gister se sprankelende eindstryd in die Toyota-stadion die soveelste keer hierdie seisoen Cheetahs-sterre teen ’n begeesterde Leeu-span.

Bygesê, Henco Venter is self pure yster. Ruan Pienaar se ervaring koop jy nie in enige supermark nie en daarby was Clayton Blommetjies ook weer op sy stukke.

Nche se invloed op die wedstryd was iets ysliks. Daar is nie ’n stut in Suid-Afrikaanse rugby wat meer amok met die bal in die hand maak as hy nie.

Daarby steek hy ook nie lyf weg op die verdediging nie. Gaan kyk maar gerus hoe hy in die 54ste minuut teruggeval het om ’n deurslaggewende duikslag op Cyle Brink in te kry.

Toe hy later na die vaskopkant geskuif is, het hy sy veelsydigheid verder bewys.

Dweba, sy jare lange spanmaat sedert hul o.19-dae, se tekortkoming was vir lank sy ingooiwerk. Dié probleem hoort nou tot die verlede. In die vastelos kan Dweba ook reeds in die Bok-hakers se geselskap genoem word. Hou hom vorentoe dop.

Venter was self ’n invloedryke speler. Hy is slim, ’n sterk leier en bewese baldraer. En hy kom in min fisieke botsings tweede.

Wat ook al die Haaie bereid was om vir hom en Nche te betaal, moet as die winskopies van die jaar beskou word.

Pienaar het die kenners en ondersteuners wat meen hy het teruggekeer om vir oulaas ’n pensioengeldjie te skep in die eindstryd vir die soveelste keer laat bloos.

Gister het hy met sy skopstewel waardevolle telborddruk opgebou terwyl die Leeus met tye bitter gevaarlik op die aanval gelyk het. Hy is baie meer vir sy span werd as wat die Cheetahs geldelik kan bekostig.

Verskeie ander Vrystaters soos William Small-Smith, Junior Pokomela, Tian Schoeman en Benhard Janse van Rensburg het hul kant gebring.

Small-Smith het veral ’n aantal deurslaggewende duikslae ingekry én ’n spogdrie gedruk.

Die oorwinning sou vir al die spelers, maar veral vir hul afrigter, stroopsoet wees.

Dit was sy laaste wedstryd as die afrigter van die Vrystaters se Curriebekerspan. Hy kon ook persoonlike wraak neem vir 1994 se eindstryd op Springbokpark net lang die Toyota-stadion.

In daardie eindstryd het Francois Pienaar se Transvaal-span Smith en sy Vrystaat-spanmaats met 56-33 bloedbek gegee.

Smith se taktiek met sy losvoorspelers in die eindstryd moet geprys word. Dit was ’n meesterskuif om die kragmeting met Gerhard Olivier te begin en dadelik ná lemoentyd met Jasper Wiese te vervang.

Wiese het deurentyd die seisoen reuse-impak gemaak as hy opgestuur is.

Dis nie net Smith wat ’n klop op die skouer as afrigter moet kry nie. As daar gister een afdeling was wat die spanne van mekaar onderskei het, was dit die Cheetahs se dryfmaalbewegings.

Corniel van Zyl, die voormalige Italiaanse slot en Smith se voorspelerafrigter, is daarvoor verantwoordelik.

Die hart en veggees wat Ivan van Rooyen se Leeu-span tot die einde gewys het, is nietemin prysenswaardig. Dít kan jy nie koop nie. Die Leeus-span is ook baie fiks.

Die jong Leeus was dalk gister aan die verloorkant, maar hulle kan vorentoe in ’n bulspan ontwikkel. Met spelers soos Ty­rone Green, Wandisile Simelane, Cyle Brink en Dylan Smith sal hulle nog heelwat spiere bult.

Veral Green en Simelane sal Leeu-ondersteuners opgewonde oor die toekoms maak. James Venter, wat as ’n plaasvervanger opgestuur is, was ook ’n ster in die verloorspan.

Die Leeus sou gisteraand wonde gelek het, maar danksy hul aanvallende benadering sal dié eindstryd as ’n skouspel onthou word.

“As ons maar nog net een minuut se bykomende speeltyd kon kry,” het ’n teleurgestelde Van Rooyen gesê.

“Ek kan met hoë lof van my spelers se karakter praat. Dit moes ’n aantreklike wedstryd vir die toeskouers gewees het.

“Ek is vir seker teleurgesteld, maar steeds baie trots op my spelers.”

Die hoofafrigter van die Leeus sê sy span het altyd geglo hulle kan terugveg.

“Vandag (gister) sal nog baie vir die jong Leeus se loopbane beteken. Hulle sal baie hieruit leer. Ek is trots op die spelers se veggees.”

Punte:

Vrystaat 31: Drieë: Joseph Dweba, William Small-Smith, Clayton Blommetjies, Walt Steenkamp. Doelskoppe: Ruan Pienaar (4). Strafdoel: Pienaar.

Leeus 28: Drieë: Wandisile Similane, Dillon Smit, James Venter (2). Doelskoppe: Shaun Reynolds (4).

Meer oor:  Vrystaat-Cheetahs  |  Goue Leeus  |  Curriebeker  |  Franco Smith  |  Eindstryd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.