Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Franco se dorp verlate weens koronavirus

Die afrigter van Italië se rugbyspan, die Suid-Afrikaner Franco Smith, ervaar eerstehands die ontwrigting wat die Covid-19-virus in dié land veroorsaak.

Franco Smith voor Italië se Sesnasies-wedstryd die afgelope naweek teen Skotland in Rome. Foto: Getty Images

Sowat 11 sterftes weens die nuwe koronavirus is reeds in Italië aangemeld, terwyl meer as 300 mense positief getoets is.

Smith, wat tot onlangs nog die Cheetahs afgerig het, laat weet uit Treviso dat die virus alles daar tot stilstand geruk het.

“Ek bly nou reeds 55 dae in ’n hotel (hy het in Januarie Italië se leisels oorgeneem), so dit is snaaks om die laaste paar dae uit te kom en te sien ek is omtrent die enigste mens hier, almal is weg.

“Die dorpe is maar redelik stil. Mense kom nie so baie uit op straat nie. In die winkels staan mens in toue en koop ’n bietjie meer voorraad aan,” sê Smith.

“Hier in Treviso waar ek bly is dit nog nie so ’n krisis nie, maar ek dink hoe meer mense gediagnoseer word, hoe erger sal die situasie raak.”

Smith se vrou, Tania, het Dinsdag na Suid-Afrika teruggekeer nadat sy die laaste ruk by hom gekuier het.

“Uiteraard is daar baie vrae oor hoe ons gaan oefen. ’n Klomp van ons spelers is op die oomblik in Parma – hulle bly daar – en ’n klomp bly in Treviso en ons moet almal Vrydag bymekaarkom.

“Ek dink dit gaan interessant wees om te verstaan hoe gaan die saak vorentoe bestuur word. Dit is ’n uitdaging, maar ’n ou hoop maar vir beste en ek is seker dat baie gedoen word in die wêreld om hierdie situasie (die uitbreek van die virus) te stop,” sê Smith.

Elf dorpe in Italië is reeds “gesluit”, wat beteken dat inwoners nie mag kom en gaan en geen besoekers toegelaat word nie, berig bbc.com.

Intussen is volgende Saterdag se Sesnasieswedstryd in Dublin tussen Ierland en Italië gistermiddag uitgestel.

Só ook aanstaande Vrydagaand se kragmeting tussen die o.20-spanne en aanstaande Sondag se Sesnasieswedstryd vir vroue.

Ierland se minister van gesondheid, Simon Harris, het Maandag aan die nasionale uitsaaier, RTE, gesê “die wedstryd moenie voortgaan nie”.

Hy en die Ierse Rugbyunie (IRFU) het Woensdagoggend vergader waar die besluit bekragtig is.

Die IRFU het in ’n verklaring gesê dat hy van die begin af die regering ondersteun het in sy besluit om die publiek se gesondheid voorop te stel.

Die Engelse rugbybase wil ook klarigheid kry oor hul wedstryd teen Italië op 14 Maart in Rome.

Sokkerbase in Italië het intussen aangekondig dat vyf Serie A-wedstryde die naweek agter geslote deure gespeel sal word, insluitende die groot wedstryd tussen Juventus en Inter Milan in Turyn.

Meer oor:  Franco Smith  |  Italie  |  Bloemfontein  |  Treviso  |  Koronavirus  |  Covid 19-Virus  |  Toetsrugby  |  Afrigter  |  Sesnasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.