Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
KYK: Franco se pos Woensdag geadverteer

Die Cheetahs sal Woensdag in alle erns met die proses begin om ’n opvolger vir dié rugbyspan se hoofafrigter, Franco Smith, te vind.

Die suksesvolle kandidaat sal reeds in die Curriebeker-rugbyreeks saam met Smith kans kry om hom van sake in Bloemfontein te vergewis.

Dit is Dinsdag op ’n mediakonferensie in die Toyota-stadion in Bloemfontein bevestig dat Smith die span tydens die Curriebeker-reeks nog sal afrig en dan tot die einde van November as die direkteur van afrigting sal aanbly.

Hy sal in Januarie as Italië se nuwe afrigter begin werk en die plan is dat hy dié nasie na die volgende Wêreldbeker-toernooi, in 2023 in Frankryk, sal neem.

Harold Verster, uitvoerende hoof van die Cheetahs, sê die nuwe afrigter sal in September die leisels vir die Pro14-reeks oorneem, maar hy sal voor dit ook deel van die afrigtingspan in die Curriebeker-reeks wees “om die kultuur te ervaar”.

Franco Smith praat met die media tydens die bekendmaking van die proses wat gaan volg om sy opvolger aan te stel. Foto: Gallo Images

“Die pos sal van Woensdag intern, ekstern en deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie geadverteer word,” sê Verster.

Die aansoeke sluit op 29 Mei en ’n aankondiging word voor einde Junie verwag.

Die Curriebeker-reeks begin op 13 Julie.

Verster wys daarop dat hulle ’n paneel gaan aanwys wat die aansoeke sal evalueer.

Onderhoude sal met die voorste drie tot vyf kandidate gevoer word. Twee of drie van hulle sal dan ook gevra word om ’n voorlegging te doen.

Verster sê daar is reeds bespreek oor hoe die paneel moet lyk, maar hy kan nog nie bekendmaak wie daarop gaan dien nie.

Dit sal ’n emosionele ervaring wees om hier weg te gaan, want hier het ons altyd met ons hart gewerk.
Franco Smith

“Mense met genoeg ervaring sal in daardie paneel dien. Die paneel is nog nie aangekondig nie, want dis nog nie gefinaliseer nie, maar dit sal ’n baie sterk een wees wat oor die nodige kennis beskik,” sê Verster.

Hy sê nuwe afrigter sal ook van die bestaande lede van die afrigtingspan by Smith erf, maar daar sal een of ander tyd nog aanstellings gemaak moet word.

“Ek dink die eerste prioriteit gaan wees dat ons kyk na ’n hoofafrigter. Dan het ons in ons geledere reeds topafrigters wat betrokke is en hulle sal uiteraard deel wees van die span wat vorentoe gaan.”

Smith het bevestig dat hy reeds sy woord aan Italië gegee het dat hy in Januarie by hulle sal inval.

Hy was Dinsdag voor die mediakonferensie in gesprek met Conor O’Shea, huidige afrigter van Italië, wat in 2020 die direkteur van afrigting word.

Smith erken ’n emosionele tydperk wag voor hy uiteindelik die Vrystaat Rugbyunie aan die einde van November gaan groet.

“Die laaste vyf jaar is daar baie hard gewerk met die span. Dit sal ’n emosionele ervaring wees om hier weg te gaan, want hier het ons altyd met ons hart gewerk.”

Meer oor:  Vrystaat Rugbyunie  |  Cheetahs  |  Franco Smith  |  Harold Verster  |  Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.