Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Franco smeek: Asseblief Kings, wees positief

Die Cheetahs gaan nie toelaat dat die Southern Kings hul manier van speel ontwrig nie.

Franco Smith, die afrigter, het die hoop uitgespreek dat die besoekers van die Baai met ’n positiewe ingesteldheid sal opdaag vir die spanne se laaste Pro14-rugbywedstryd Saterdag in Bloemfontein.

Rabs Maxwane kan Saterdag in Bloemfontein teen die Southern Kings die rekordhouer vir die meeste drieë in ’n seisoen word as hy gaan druk. Foto: Gallo Images

Die Kings, wat soms in die reeks kwaai moes walgooi, het hulle by tye aan negatiewe spel skuldig gemaak. Hul dissipline het ook gelol. Hulle het in hul 20 wedstryde reeds 26 geelkaarte en drie rooikaarte gekry, wat ’n aanduiding is dat hulle hul ook aan ongeoorloofde spel skuldig maak.

Smith sê dit gaan belangrik wees dat sy span nie toelaat dat enigiets wat die Kings doen sy manier van speel ontwrig nie.

“Ons wil die reeks goed afsluit. Dit is vir ons soos ’n eindstryd. Ja, hulle speel dalk met tye negatiewe rugby, maar ons hoop hulle daag op met ’n positiewe ingesteldheid,” sê Smith.

“Ek glo as ons dinge kan doen soos wat ons beplan het en van die belowende bewegings in punte kan omskep, kan ons die Kings onder druk plaas.

“Hulle is ’n span wat baie strafskoppe afstaan, maar ons hoop dat hulle positiewe rugby gaan speel soos wat hoort in ’n Suid-Afrikaanse derby.”

Smith het onthul hulle beplan om die Kings, soos in die twee vorige wedstryde die seisoen, weer voorlangs die stryd aan te sê.

Hy sê hulle sal goed by die afbreekpunte moet wees, want dit is waar hy dink hulle beloon behoort te word.

“Hopelik kan ons dryfmaalbewegings en vaste fasette goed deur die skeidsregter hanteer word, want dit is waar ons hulle wil teiken,” sê Smith.

Saterdag se skeidsregter is die Wallieser Dan Jones.

Hy was in beheer in een van die Kings se twee oorwinnings van die seisoen – met 25-21 oor Edinburgh in Januarie in Port Elizabeth.

Die wedstryd is ook ’n gulde en laaste geleentheid vir die Cheetah-blits Rabs Maxwane om die rekord vir die meeste drieë in ’n seisoen syne te maak. Die vleuel het reeds 14 drieë gedruk.

Hy het in die Cheetahs se vorige wedstryd teen die Dragons Tim Visser van Edinburgh se rekord in die 2010-’11-seisoen geëwenaar.

Tian Meyer, die Cheetahs se kaptein, sê elke wedstryd gaan oor ’n spanpoging, maar as die geleentheid hom voordoen, sal hulle graag wil help dat Maxwane die rekord agter sy naam skryf.

“As ’n speler in ’n posisie is om Rabs oor te stuur om die rekord te verbeter, sal dit beslis gedoen word. Ek is seker Rabs sal self hard werk om die rekord te verbeter. Soos ek sê, dit gaan eerstens oor die span,” sê Meyer.

Meer oor:  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.