Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Franco Smith: ‘Inperking soos tronkstraf’

Franco Smith, afrigter van Italië se rugbyspan, sê die Covid-19-inperkings is soos tronkstraf en daarom het hy simpatie met een van sy spelers se besluit om hom nie vir die komende Sesnasies-reeks beskikbaar te stel nie.

Matteo Minozzi is hier in Februarie 2020 vir Italië in ’n kragmeting in die Sesnasies-reeks in aksie. Foto: Getty Images

Matteo Minozzi (24), ’n heelagter wat sy klubrugby vir Wasps in Engeland speel, het vandeesweek op sosiale media gesê dat hy fisiek en emosioneel te uitgeput is om vir nog twee maande in ’n bioborrel te bly.

Die Sesnasies-reeks begin op 6 Februarie met die Italianers wat teen Frankryk in Rome te staan kom. Engeland en Skotland is dieselfde dag op Twickenham slaags, terwyl Wallis en Ierland mekaar die volgende dag in Cardiff pak.

Smith, wat die Cheetahs voorheen gebrei het, sê sommige spelers het meer emosionele ondersteuning gedurende die Covid-19-pandemie nodig – en dat die deur steeds vir Minozzi oop is.

Franco Smith, afrigter van Italië, vergelyk die lewe in ’n bioborrel met tronkstraf. Foto: Getty Images

“Ek verstaan die situasie 100%. Ek weet om in ’n borrel te lewe is uitdagend, want ek was self twee maande in een,” het Smith by die toernooi se virtuele bekendstelling gesê.

“Die feit dat jy nie na die yskas kan loop en dit kan oopmaak en iets kan kry om te eet of te drink nie, asook die feit dat jy nie jou vrou en jou kinders of jou metgesel in die aande kan sien nie, maak ’n groot verskil.

“Om uitsluitlik op rugby te fokus en dit twee maande lank te eet, slaap en drink is moeilik, so die welstand van spelers is baie belangrik.”

Smith het bygevoeg dat daar baie fokus op harsingskudding en beserings by spelers is, maar dat die emosionele tol van die pandemie al hoe meer in gesprekke opduik.

“Van ons kant af as afrigters en mentors moet daaraan aandag gegee word. Vir sommige ouens is dit moeilik om by ’n geslote omgewing aan te pas,” sê Smith.

“Ek dink partykeer kry gevangenes hulp om aan te pas in die tronk – dit is dieselfde. Dis uit die aard van die saak in ’n ander omgewing.”

Minozzi is nie die enigste speler wat hom nie beskikbaar gestel het nie. Ook Engeland se stut Joe Marler gaan nie in aksie wees nie. Marler het op Twitter gesê hy wil die regte ding vir sy gesin “in hierdie mal tyd” doen.

’n Opdraande stryd wag vir Smith en sy troepe. Die Azzurri het sedert 2013 slegs een oorwinning in die Sesnasies-reeks behaal en dit is omtrent ’n instelling dat hulle onderaan die punteleer eindig.

“Ons uitdagings is nie net teen wie ons speel nie. Ek dink ons grootste uitdaging is onsself,” sê Smith.

“Ons moet elke week en in elke wedstryd verbeter op dit wat ons doen.” – Reuters

Meer oor:  Toetsrugby  |  Covid-19  |  Franco Smith  |  Sesnasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.