Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Franco weg as Cheetahs Super-status verloor
Franco Smith

Franco Smith sal vir die Cheetahs verlore wees as die Vrystaatse span sy status as ’n Superrugby-span verloor.

Smith sal egter as die Cheetahs se hoofafrigter aanbly indien die span sy plek in die Superreeks vir 2018 behou, omdat Smith kontraktueel tot ná die 2019-seisoen aan die Vrystaat verbind is. Grootskaalse verwarring heers nog oor of die Cheetahs in volgende jaar se Superreeks, of selfs van September vanjaar, in die Europese Pro12-reeks sal meeding. Weens Smith se verpligtinge as die Springbokke se aanvallende en agterlynafrigter sal dit vir hom onmoontlik wees om die Cheetahs af te rig as hulle aan die Pro12-reeks sou deelneem.

Die Pro12-reeks, waarvan Rassie Erasmus se Ierse klubspan Munster in gister se een halfeindstryd teen die Ospreys betrokke was, begin in September.

Die Cheetahs sal dit as ’n yslike slag beskou, aangesien Smith eerstehandse ervaring van die Pro12 en Europese toestande het. Hy was van 2007 tot 2013 die Italiaanse klubspan Benetton Treviso se hoofafrigter. Treviso het toe in die Pro12 gespeel.

Smith se toekoms by die Bokke is glo verseker tot ná 2019 se Wêreldbeker. Weens sy verpligtinge met die toetsspan moes die Vrystaters hom reeds met Rory Duncan as die Cheetahs se Curriebeker-hoofafrigter vervang.

Duncan, MJ Smith en Corniel van Zyl sal van die sterkste aanspraakmakers wees om die Cheetahs in die Pro12-reeks af te rig as die Vrystaters hul plek in die Superreeks verloor. Hendro Scholtz (Shimlas), Peter Engledow ­(Griekwas), Tiaan Liebenberg ­(Ixias) en Oersond Gorgonzola (Griffons) rig van die streek se ander bekendste spanne af.

Sedert dit vroeër vanjaar bekend geword het dat die Cheetahs een van die twee plaaslike spanne is wat hul plek in die Superreeks kan verloor, het Francois Uys (slot, Grenoble), Boom Prinsloo (losvoorspeler, Bulle), Maphutha Dolo (vleuel, Valke) en Sergeal Petersen (vleuel, Westelike Provinsie) kontrakte met ander unies gesluit.

Raymond Rhule (vleuel) het nog nie sy kontrak met die Vrystaat verleng nie.

Meer oor:  Franco Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.