Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Frankryk wil SA se jong rugbytalent oes

Asof die uittog van Springboksterre nie al genoeg is nie, staar Suid Afrikaanse rugby ’n massiewe nuwe bedreiging in die gesig: Franse klubs wat nou hul visier op skolerugbyspelers so jonk as 16 rig.

Rapport kan onthul dat daar minstens drie Franse en een Italiaanse klub is wat speleragente genader het om skolerugbysterre wat in gr. 10 is te probeer oortuig om hul skoolloopbane oorsee af te sluit. Sodoende sal hulle vroeër vir dié lande se nasionale spanne kan kwalifiseer.

Rapport het by drie spelersagente bevestiging gekry dat hulle deur klubs genader is om jong spelers te werf. Montpellier – wat reeds ’n akademie by Grey-kollege gestig het – is saam met Castres en Clermont-Ferrand aktief op soek na jong Suid-Afrikaanse talent.

Frankryk het onlangs die sogenaamde JIFF-stelsel by die Top-14 klubrugby ingestel, met die doel om af te skaal met oorsese spelers in die plaaslike ligas. Klubs wil nou dieselfde stelsel gebruik om jong sterre te werf vir Franse toetsrugby.

Volgens die JIFF-stelsel moet ’n gemiddeld van 15 van klubs se 23-tal kwalifiseer om vir Frankryk te speel. In die 2019/’20-seisoen sal die syfer na 16 toe verhoog. Sodoende wil die Franse Rugbyunie die hoeveelheid buitelanders by Franse klubs beperk.

As die klubs tans ’n speler werf ná skool, sal die speler steeds volgens reëls drie jaar in ’n akademie by die klub moet deurgaan voordat hy JIFF-gekwalifiseerd is.

Die skuiwergat is dat as spelers hul laaste twee jaar van skool in Frankryk doen, hulle outomaties JIFF-gekwalifiseerd sal wees. Die spelers sal ook vir die land se o.20-span kan uitdraf.

Terwyl die klubs wel transformasie as ’n argument gebruik om spelers te lok, is die verandering in die plaaslike kontrakteringstelsel, met minder jong spelers wat kontrakte kan verwag, ’n bydraende rede waarom jong spelers oorsee sal gaan.

SA Rugby se besluit om die plaaslike o.19-liga af te skaf maak dat unies nie so baie junior spelers as in die verlede kan kontrakteer nie, en dit het ook ’n rol gespeel. Die sogenaamde klein unies se finan­siële toestand laat hulle tans ook net toe om spelers vir agt maande te kontrakteer.

Nico Serfontein, hoof van SA Rugby se talentidentifisering-en-elite-spelerprogram op skool, glo die nuwe wending is ’n groot bedreiging vir SA Rugby.

“Dit is ’n groot bedreiging en ’n tendens wat net groter gaan word, want die oorsese klubs teiken nou ons skoolseuns. Ons moet hulle probeer ontwikkel, maar ons kan nie almal se aspirasies bevredig nie. Volgens ons wet mag ons ook nie ’n kontrak met ’n seun onder 18 teken nie,” het Serfontein aan Rapport gesê.

“Ons het nie beheer daaroor nie, en dit gaan moeilik wees vir Saru om ’n beleid uit te werk om spelers te probeer behou. Ons kan nie beloftes aan jong spelers maak nie, terwyl lande soos Frankryk dit wel kan doen.”

Serfontein sê die ander groot bedreiging vir SA Rugby is die toenemende hoeveelheid jong swart talent wat van buurlande in die topskole is. Terwyl dié skoolseuns op Cravenweek-vlak spanne help om hul transformasieteikens te bereik, kan hulle volgens Saskok-reëls nie sonder ’n SA paspoort vir nasionale spanne gekies word nie.

Meer oor:  Frankryk  |  Suid-Afrika  |  Talent  |  Rugbyspelers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.