Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Aanloop tot WB begin: Frans 100% Bok
Aussies vandag al hier om lugdruk te tem

Frans Steyn is 100% tot die Springbokke verbind en hy sal die week saam met die Bokke begin oefen met die oog op volgende Saterdag se toets teen Australië op Ellispark.

Steyn se afwesigheid by die Springbok-oefenkamp die afgelope week het vrae laat ontstaan of hy en sy Franse klub haaks is oor sy voorneme om vir die Bokke te speel. Steyn was egter verplig om volgens die Franse reëls vir vier weke tussen seisoene te rus, wat hom weerhou het om hom by die Bokke aan te sluit.

Frans Steyn
Frans Steyn in Junie 2017, toe hy laas die Springbok-trui gedra het. Foto: Lee Warren/Gallo Images

Hy sal egter die week by die span inval.Rapport se bronne sê hy is vir al vanjaar se toetse beskikbaar en hy hoop ook om teen die Britse en Ierse Leeus in 2021 te speel.

Met die Wallabies wat vandag in Johannesburg aankom – feitlik ’n hele twee weke voor die toets op Ellispark – met die plan om die Hoëveld se lugdrukfaktor so te ontduik, wag ’n klipharde toets op die Bokke én Rassie Erasmus, Bok-afrigter.

Hoe gefokus Australië is om hul Wêreldbeker-veldtog met ’n oorwinning oor die Bokke te begin, blyk duidelik uit hul ongewone beplanning vir volgende Saterdag se toets.

In teenstelling met die Aussies se berekendheid in hul voorbereiding om die Bokke te klop, sal Erasmus proefnemings met sy toetsspan maak en ook gedwing wees om te kyk hoe ’n paar beseerdes vaar.

Australië is tans sesde op die wêreldranglys, een plek agter die Bokke, en het laas in 2011 in Suid-Afrika gewen. Hulle het wel in 2017 in Bloemfontein gelykop teen die Bokke gespeel.

Die omstrede Australiese afrigter, Michael Cheika, draai egter nie doekies om dat hulle Suid-Afrika toe kom om te wen nie. Om die lugdrukfaktor te verklein, het Cheika besluit dat die Aussies nie soos gebruiklik net ’n week vroeër hier sal aankom nie., maar ’n langer tydperk aan te pas.

Cheika is amper in 2018 afgedank nadat die Wallabies hul swakste seisoen nog beleef het en net vier van hul 12 toetse kon wen. Daarom beskou hul afrigter dit so noodsaaklik dat hulle ’n wenmomentum opbou.

Geduld nodig om Bokke vir WB te slyp, sê Rassie.

“Dit is geen geheim nie dat ons van agter af terugkom,” het Cheika voor sy span se vertrek uit Australië gesê.

“Julle het dit oor die afgelope agt of nege maande geskryf. Maar om terug te kom, moet jy momentum bou en selfvertroue kry. Dit is baie belangrik.”

Die Springbokke se turksvy is dat verskeie van sy topspelers nog op die krukkelys is.

“Ons het meer as genoeg tyd voor die Wêreldbeker, maar die vraag is – sal die geduld daar wees? Ons sal Maandag die beginspan intern aankondig, maar die spelers weet al 90% hoe dit teen Australië gaan lyk. Ons het al daaroor gepraat,” het Erasmus gesê.

“Teen Australië sal alles nie perfek wees nie, veral omdat daar nuwe kombinasies sal wees. Herschel (Jantjies) is nuut, asook Marcell (Coetzee) en Rynhardt (Elstadt). Selfs Frans (Steyn) is nuut in die stelsel. So ons verwag ’n paar haakplekke voordat ons die vloei reg sal kry.

“Australië se rug is teen die muur en hulle sal seker hul beste span kies, terwyl ons meer van ’n gemengde span sal kies. Ons sal wil momentum kry, en hopelik gaan dit goed.

“Ons het 20 weke voor die Wêreldbeker – laasweek was week een en daar is 19 om te gaan. So ons het genoeg tyd, maar geduld is die grootste uitdaging as dinge nie na ons kant toe gaan nie.”

Meer oor:  Springbokke  |  Frans Steyn  |  Ellispark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.