
Bismarck du Plessis
Die Wêreldbeker-deur het nog allermins toegeslaan vir verskeie oorsese Springbokke wat nie vanjaar deur Rassie Erasmus ingespan is nie.

Jan Serfontein
Die haker Bismarck du Plessis, die senters Frans Steyn en Jan Serfontein en die losskakel en heelagter Pat Lambie word nog met valkoë deur die Bok-afrigter dopgehou, het ’n onberispelike bron aan Rapport gesê.
Du Plessis en Steyn, wat soos Serfontein vir die Franse klubspan Montpellier speel, is voor die Junie-toetsreeks teen Engeland by Erasmus se eerste groep van die jaar ingesluit, maar het hulle weens beserings aan die groep onttrek. Geeneen van hulle is daarna weer by ’n Bok-groep ingesluit nie.
Volgens Rapport se bron kan Du Plessis (34) hom in die groep vir die Wêreldbekertoernooi in Japan bevind as een van die ander hakers, wat deel van Erasmus se planne is, ’n besering opdoen, en Du Plessis se spelpeil by Montpellier goed bly.
Die drie hakers in die Bokke se groep vir die jaareindtoer was Malcolm Marx, Bongi Mbonambi en Schalk Brits, terwyl Akker van der Merwe ook vanjaar sy toetsbuiging gemaak het.

Francois Steyn
Du Plessis het sy laaste toets in 2015 by die Wêreldbekertoernooi in Engeland gespeel.
Steyn (31), wat in Junie 2017 laas vir die Bokke uitgedraf het, se naam word glo ook nog in Bok-kringe bespreek.
Hy en Lambie, wat vir Racing 92 speel, is die twee veelsydige spelers wat die Bok-afrigtingspan glo waarde vanweë hul ervaring en spelskeppende vermoë kan toevoeg.
Serfontein was verlede jaar een van die Bokke se beste agterspelers, maar ’n besering het hom vanjaar daarvan weerhou om vir die Bokke uit te draf.
Hy, Steyn, die Haaie se Lukhanyo Am en die Leeus se Lionel Mapoe is glo die vier spelers wat nié op die jaareindtoer was nie, maar wie se name steeds as senter in die Bok-binnekring bespreek word met die oog op die skouspel in Japan. Am het die jaareindtoer met ’n besering misgeloop.

Pat Lambie
’n Speler soos veral André Esterhuizen sal in die Superrugby-reeks moet bewys dat hy ook ’n spelskepper kan wees, as hy sy kaartjie na Japan wil bespreek.
Op tuisbodem is daar ook spelers wat steeds op die Bok-radar is, maar nie die toer na Europa meegemaak het nie.
Op stut is die oë op Beast Mtawarira en Coenie Oosthuizen gerig. Mtawarira was beseer en sal weer volgende jaar in die prentjie wees.
Die Bok-kamp het groot agting vir Oosthuizen en erken hy beskik oor die X-faktor.
Maar hy sal self die deur moet oopskop nadat vaskoppe soos Frans Malherbe, Wilco Louw en Vincent Koch vanjaar hul kant gebring het in Oosthuizen se afwesigheid weens beserings.
Oosthuizen se vermoë as baldief en baldraer maak dit baie moeilik om hom nie te kies nie.
In die agterste driehoek sal Makazole Mapimpi en Warrick Gelant ná beserings weer betrek word.