Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Frans lek lippe af vir skrums op Ellispark

Daar is in Oktober gespot dat Frans Malherbe om die middellyf ’n bietjie meer soos wyle Bud Spencer as sy ou self voor die staat van inperking lyk, maar watter afrigter in die rugbywêreld sal sy neus vir dié Springbok-vaskopstut optrek?

En sedert wanneer is vaskopstutte veronderstel om ’n “six pack” te hê? Al wat John Dobson, die Westelike Provinsie se afrigter, van sy nr. 3 soek in Saterdag se Curriebeker-wedstryd op Ellispark, is dat hy die Leeus in die skrums roer en ’n paar groot duikslae maak.

Die Westelike Provinsie sal op sy Springbok-vaskopstut, Frans Malherbe, staatmaak om die Leeus by die skrums onder druk te plaas in Saterdag se Curriebeker-wedstrryd op Ellispark. Foto: Gallo Images

Malherbe sê egter daar moet verder gekyk word as net die Stormers en WP se voorry – hy, Bongi Mbonambi en Steven Kitshoff in die beginspan – vir waarom die Kapenaars só goed in die skrums vaar.

“Oorheersing in die skrums kom neer oor hoe die ganse pak voorspelers saamwerk en veral hoe die vyf spelers agter die voorry elke skrum benader,” sê hy.

“Daardie ouens verdien werklik krediet en het die afgelope naweek (teen die Bulle) baie druk geskep. Dit laat ons in die voorry goed lyk. So ja, dit was ’n goeie skrumvertoning, maar daar’s gemengde gevoelens, want ons het nie die wedstryd gewen nie.”

Malherbe meen die WP kon met beter besluitneming die Blou Bulle verlede naweek op Nuweland geklop het eerder as om met 20-22 te verloor.

“As ek terugkyk, kon ons besluitneming op sekere plekke beter gewees het – waar daar vir ons ’n goeie opsie was, wat ons nie geneem het nie,” sê hy.

Daardie woorde is waarskynlik ’n diplomatiese verwysing na die besluit om diep in die wedstryd nie die opsie van ’n strafskop pale toe te neem nie. Dit kon die WP met agt punte laat voorloop en ’n oorwinning beklink het.

“Dit sal ons ’n beter span maak,” sê hy oor die harde les wat in die proses geleer is.

Was Bud Spencer ’n vaskopstut eerder as ’n Olimpiese swemmer en daarna akteur, sou Italië waarskynlik nooit ’n rugbytoets verloor het nie. Foto: Gallo Images
Spencer vat ’n paar booswigte vas soos net hy kon in een van daardie flieks wat in die tagtigerjare gewild was. Foto: Getty Images

“Ons groei as ’n span. As ons in sekere areas die regte besluite neem, sal dit beter gaan.”

Malherbe meen die nat toestande wat in Johannesburg verwag word, die skrums ’n belangriker faset as gewoonlik kan maak. Gelukkig is afskop eers om 19:00 en die verwagting is dat die naweek se donderstorms teen daardie tyd al iets van die verlede gaan wees.

“Met die weer wat ons hierdie naweek verwag, is die kans op hanteerfoute tien teen een hoër,” sê hy.

“Ons probeer egter die volle pakkie bymekaar sit, om in elke faset insluitend die skrums goed te vaar. Ons sal wanneer daar ’n skrum aan ons toegeken word daaruit probeer voordeel trek deur te oorheers, maar dis nie die enigste ding nie, en ons kan nie nét daarop staatmaak nie.”

Malherbe voeg by dat die WP gesonde agting vir die Leeus se skrumwerk het.

“ ’n Ou moet baie respek hê vir die Leeus se skrumwerk. Hulle het oor ’n hele paar jaar gesag afgedwing. As jy hulle onderskat, gaan jy beslis in die moeilikheid wees. Dit gaan vir ons hierdie naweek ’n groot uitdaging wees.”

Maar met “Bud Spencer” aan hul kant, is dit ’n uitdaging waarna die WP straks baie uitsien.

Die vraag is waarskynlik net of daar genoeg ander dimensies aan die Streeptruie se spel gaan wees om die wa deur die drif te kan trek.

Meer oor:  Frans Malherbe  |  Wp  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Westelike Provinsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.