Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Frans moet steeds pale toe mik, sê Ruan

Selfs al is hy perdfris en gesond, dink hy Frans Steyn – wat die Cheetahs ’n paar keer mooi gered het – moet stééds die stelskopwerk vir die span behartig.

Frans Steyn Foto: Gallo Images

So sê Ruan Pienaar, terugkerende kaptein en skrumskakel van die franchise aan die vooraand van die nuwe voorbereidingsreeks wat die naweek begin.

Steyn het in die Curriebeker-reeks geskitter met sy stelskoppe in die afwesigheid van Pienaar en die losskakel Tian Schoeman.

Die senter het sy laaste 25 pogings, waarvan ’n handvol in sy eie helfte was, deur die pale gejaag en Pienaar dink nie daar moet nou hieraan getorring word nie.

Die 36-jarige Pienaar, wat ook nie sommer skeef korrel nie, kan weer oorweeg word nadat hy herstel het van ’n kniebesering wat hy vroeg in Oktober in die tweede wedstryd van die seisoen teen die Bulle in Bloemfontein opgedoen het.

“My knie voel taamlik goed, veral met die hardloop en die rigtingverandering. Met die skoppe het ek nog nie heeltemal 100% selfvertroue nie. Ek sal die knie maar verbind en glo alles sal goed uitwerk.

“Ek dink ook met die stelskopwerk het Frans ’n goeie job gedoen, so dis moeilik vir my om sommer nou weer by hom oor te neem. So, ek dink Fransie moet steeds skop.

“Hy het ons ’n paar keer in wedstryde met sy goeie stelskopwerk gered.”

Ruan Pienaar Foto: Gallo Images

Pienaar is opgewonde om weer te kan speel en sê ’n wedstryd sal die werklike toets vir hom wees.

“Ek is ongewonde om weer op die veld te wees en net die eerste wedstryd weer agter die rug te kry. ’n Ou wil weet die knie is reg en jy wil net weer die selfvertroue terugkry.”

Die Cheetahs begin hulle aanslag in die voorbereidingsreeks Saterdag in die Kaap teen die Stormers.

“Dis ’n moeilike een om vir jou eerste wedstryd Kaap toe te gaan. Hulle het ’n baie goeie span. Dit gaan ook ’n uitdaging wees omdat ons almal lanklaas gespeel het.”

Die Cheetahs het teen die einde van die Curriebeker-reeks hul voete mooi gevind na al die ontwrigting wat daar gedurende die seisoen was met spelers wat weggegaan het na die nuus dat die span nie meer in die nuwe Pro16-reeks gaan speel nie.

“Ek dink na die onsekerheid en dinge die laaste klompie maande en die ouens wat ons verlaat het, is ons nou op ’n plek waar die ouens wat hier wil wees, hier is.

“Natuurlik is daar nog ’n paar wat gaan skuif teen die middel van die jaar, maar ek dink ons het ’n lekker groep ouens. Ek sien uit om saam met almal te werk en hopelik kan ons goed presteer. Daar is natuurlik baie goed om aan te werk, maar almal is fiks en oorgehaal.”

Die afrigter, Hawies Fourie, sê hulle sal teen die einde van die week ’n aankondiging maak oor die Springbok-flank Jacques Potgieter, wat vir ’n proeflopie saam met hulle geoefen het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.