Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Frans nie by Bokke oor ‘klub en familie’
Frans Steyn in ’n ligte luim gedurende ’n Springbok-oefening in 2017. Foto: Gallo Images

Frans Steyn se reputasie loop hom teen dié tyd vooruit en dit is onafwendbaar dat daar bespiegel word oor die rede waarom hy nie in Pretoria saam met die Springbokke oefen nie.

Die 32-jarige Steyn, wat in 2017 laas toetsrugby gespeel het, is onlangs in die Bokke se groep vir die komende Rugbykampioenskap ingesluit.

Hy is een van tien oorsese spelers wat deur die Bok-breier, Rassie Erasmus, betrek is.

Steyn het nog nie saamgeoefen nie en daar is reeds vrae oor sy voortgesette deelname.

Dié veteraan van 56 toetse het in 2014 opslae gemaak toe hy hom aan Heyneke Meyer se Bokspan onttrek het oor ’n dispuut wat hy met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gehad het.

Steyn is verlede jaar voor die Junie-toetsreeks teen Engeland by Erasmus se eerste groep van die jaar ingesluit, maar het hom weens ’n besering onttrek en hy is daarna nie weer gekies nie.

Erasmus het Woensdag gesê Steyn het ’n paar “logistieke kwessies” wat hy moet uitsorteer, maar hy het nie aangedui presies wat dit behels nie.

Daar is ’n kwessie of twee met sy familie en klub (Montpellier) waaraan hy aan aandag moet gee. Hy sal Saterdag weer by ons aansluit.
Rassie Erasmus

“Hy het al by ons aangesluit, maar oefen nie saam nie.

“Daar is ’n kwessie of twee met sy familie en klub (Montpellier) waaraan hy aan aandag moet gee. Hy sal Saterdag weer by ons aansluit.”

Erasmus is gevra of hy tevrede is met Steyn se fiksheid en kondisionering.

“Hy is beslis nie so fiks soos die fikste ou in die groep nie, maar is fikser as die speler wat die onfikste is,” het Erasmus met ’n groot glimlag geantwoord.

En is hy oortuig dat Steyn ten volle tot die Springbokke verbind is?

“Ek is gemaklik met al die spelers wat in die groep is en ek weet waar ek met hulle staan en wat hul aspirasies is.

“Jy moet besef daar is baie keer goed wat buite die oorsese spelers se beheer is.

Rassie Erasmus

“Daar was in die verlede kontrakte wat gesluit is nadat agente beloftes gemaak het en in sommige gevalle het die spelers in die middel beland (tussen hul klubs en die Bokke).”

Erasmus sê dit is nie ’n gegewe dat Steyn later die maand die toergroep na Nieu-Seeland en Argentinië sal haal nie.

Die Bokke speel op 27 Julie in Wellington teen die All Blacks en op 10 Augustus in Salta teen die Poemas in die Rugbykampioenskap.

“Die oorsese ouens wat nou in die groep is, gaan nie almal die Wêreldbeker-groep haal nie.

“Ons kyk na al ons opsies met moontlike beserings in ag geneem. Dit sal ’n uitdaging vir die oorsese spelers wees om die groep te haal.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.