Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Frans, Pieter-Steph straks in beginspan

Die Springbok-beginspan wat Engeland Saterdag in Bloemfontein in die tweede toets pak, sal waarskynlik veral voorlangs so effens anders daar uitsien as die een wat die eerste toets gewen het.

Rassie Erasmus, die Bok-breier, het vroeër vandeesweek gesê die span sal nie drasties verskil van die een wat met 42-39 op Ellispark gewen het nie, maar dat “een, twee of drie” veranderinge verwag kan word.

Pieter-Steph du Toit oefen Dinsdag saam met sy Springbok-spanmaats in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Die kans dat Wilco Louw sy nr. 3-trui gaan behou, is bitter skraal. Frans Malherbe, wat nie in een van die eerste twee toetse teen Wallis en Engeland onderskeidelik, in aksie was nie, sal hom moontlik in die beginspan bevind. Erasmus kan ook vir Thomas du Toit tot die beginspan bevorder, maar die breier wil hom waarskynlik eers later in die toets as ’n impakspeler opstuur.

Die ander moontlike skuif wat Erasmus kan maak, is om Pieter-Steph du Toit met die nr. 7-trui toe te vertrou. In Johannesburg het Jean-Luc du Preez dié trui gedra. Hoewel hy nie die wêreld aan die brand gespeel het nie, het hy tog skaflik vertoon, veral by die afbreekpunte.

Du Toit het egter ’n wesenlike verskil gemaak toe hy op flank opgestuur is. Erasmus het reg ná die toets gesê hy sal skuiwe oorweeg wat, onder meer, die ervaring van die span ’n hupstoot sal gee. Du Toit is ’n ervare speler en sy fisiekheid, veral by die afbreekpunte, sal ’n bate vir die Bokke wees. Hy bied ook ekstra lynstaanopsies aan die Bokke.

RG Snyman, wat in sy tweede toets sal speel, het juis gesê die Bokke was nie heeltemal tevrede met hul werk in die losskrums nie.

Frans Malherbe by die Bok-oefening in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

“Ons moet nog baie werk aan ons verdediging by die afbreekpunte. Engeland het ’n paar keer vir Faf (de Klerk, skrumskakel) agter die losgemale gevang. Ons werk ook hard aan ons rolmaalbewegings,” sê Snyman.

Wat presies Schalk Brits se rol gaan wees, is nog ’n raaisel. Dis onwaarskynlik dat Erasmus vir Bongi Mbonambi sal weglaat ná sy goeie vertoning op Ellispark. Brits kan moontlik Akker van der Merwe se plek op die plaasvervangersbank kry, maar Erasmus kan ook besluit om nie aan sy voorrykombinasie op die bank te karring nie.

Dis ook nog onduidelik of Erasmus aan sy agterlyn gaan torring ná die goeie vertonings van die agterspelers in die eerste toets. Dit sal nie sin maak om die buiteagterspelers weg te laat nadat hulle soveel op die verdediging geleer het in die eerste toets nie.

Snyman glo al die onervare Bokke sal dié week beter wees as in die eerste toets. Maar, waarsku hy, dieselfde geld Engeland.

“Hulle sou ook, soos ons, geleer het uit die eerste toets en sterker terugkom,” sê hy.

’n Moontlike Bok-beginspan:
Willie le Roux, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Duane Vermeulen, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Franco Mostert, RG Snyman, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi en Beast Mtawarira.

Meer oor:  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Bloemfontein  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.